Local newsNews

‘Tsunami’ van vlamme verswelg ‘n leeftyd se herinneringe

Carel se hondjies, Buksie en Baster, is uit die brandende huis gered.

In Carel Buitendag se geheue is Sondag 24 Augustus vir altyd ingebrand. Die flitsende oomblikke toe ‘n ‘tsunami’ van vlamme gejaag deur die wind, ‘n leeftyd se bymekaar maak uitgewis het tot ‘n hoop as. So vinnig dat daar nie eens kans was om ‘n tweede keer in die huis te kon ingaan nie.

Al wat hy het is die klere aan sy lyf, sy motor, en sy hondjies, Buksie en Baster.  Hulle kon hy red voordat die vlamme vanmiddag alles verswelg het op die Homelands-plot tussen Meyerton en Vereeniging waar Carel en sy broer Wiekus, en Wiekus se gesin woon.

Dit was alles net so vinnig, vertel Carel se suster, Sonja van Rhyn, wat in Parys woon.

Wiekus bly al sowat 35 jaar in die huis op die plot waar hy as passer-en-draaier ook sy onderneming het.  Carel se Wendy-huis met die aangeboude deel, stoep en afdak was net ‘n hanetree daarvandaan. So ook die stoor waarvandaan Wiekus werk.

Die twee broers was saam in Wiekus se huis aan tafel vir middagete toe die oproep van die bure kom. ‘n Brand wat elders ontstaan het is genadeloos deur die wind aangedryf en het sy pad oor die bure se grond gebrand. Onstuitbaar. Verwoestend op pad na die Buitendags se grond.

Hulle het dadelik begin water gooi en brand slaan, maar niks kon die see van vlamme keer wat Carel se houthuis in vlamme gehad het nie. Oral moes hul keer. By Carel se huis, Wiekus se huis, die stoor, vertel Sonja.

Sy sê die munisipale brandweerdiens het uitgekom, met die groter brandweervoertuig wat moes help by ‘n plot agter haar broers waar chemikalieë was, terwyl die kleiner brandweervoertuig hulle te hulp gesnel het.

Baie hande was daar om te help vuur veg, maar die wind het verwoed die vlamme laat spring oor verskeie plotte tot by die pad.

Carel moes magteloos toekyk hoedat alles wat hy gehad het – ook die laaste goed wat hy van sy oorlede ouers in die huis gehad het,  vernietig word.

Sy ouers het ook vroeër op die plot gebly.

Wiekus se huis het waterskade en kragdrade wat gebrand het.

Nou is al wat oorbly om uit die as uit op te staan, te herbou en aan te gaan. Maar hoe doen jy dit, met net die klere aan jou lyf en die seer wat brand in jou hart?

Carel is vanmiddag deur familie gehelp met verblyf en klere. Huisraad sal hul mettertyd bymekaar maak, sê Sonja. “Wat nou nodig is, is om sy plekkie te herbou.”

Daarom het Sonja ‘n Back a Buddy fondsinsameling begin om Carel te help. Mense wat kan help kan na die Back a Buddy skakel gaan by

https://www.backabuddy.co.za/campaign/carel-buitendag?fbclid=IwdGRjcAMYSw1jbGNrAxhK_2V4dG4DYWVtAjExAAEeEmKJnIPPSEKa-xHp8RqLGntmjLgzU3RxPV-zYXdRxG9j_SWGzbHhAS-XURo_aem_KBxj9PikC_7Jw6GXakxxZA.

Enige boumateriaal skenkings sal ook help, en kan Sonja gekontak word by 082 327 4250.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button