Munisipaliteit waarsku teen onwettige aksie , beskadiging van infrastruktuur terwyl hofstryd voortduur
Terwyl Ngwathe aangedui het dat hy petisie na die Appèlhof teen 'n vroeëre hofbeslissing oor administrasie gaan bring, het AfriForum vandeesweek gesê hy gaan hom weer tot die hof rig met 'n aansoek om die uitspraak intussen inwerking te stel, hangende die uitkoms van 'n appèlproses.
Die Ngwathe munisipale raad bly, en sal steeds sy uitvoerende en administratiewe outoriteit uitvoer totdat die Appèlhof sy finale beslissing oor die lot van die raad en die munisipaliteit gemaak het. So het die munisipaliteit vanmiddag in ‘n verklaring gesê waarin inwoners gevra is om hulle nie te laat mislei deur ‘magte wat gekant is teen stabiliteit en vooruitgang.”
Die verklaring volg na weke se onstuimigheid sedert regter JP Daffue in die Vrystaatse hooggeregshof in die guns van die burgerregte organisasie AfriForum beslis het om die munisipaliteit onder administrasie te plaas en die raad te ontbind.
AfriForum het die aansoek na die hof gebring oor wat die organisasie bestempel as jarelange versuim van die munisipaliteit om ‘n diens aan die gemeenskappe van Parys, Vredefort, Heilbron, Edenville en Koppies, te lewer, wat deur die munisipaliteit bedien word.
Die aansoek tot die hof is al in Desember verlede jaar deur AfriForum gebring, maar was uitspraak voorbehou. Sedert die hof sy finale beslissing in Junie vir provinsiale ingryping by die munisipaliteit gemaak het, kon die hofbevel nog nie tot uitvoer gebring word nie, nadat Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamaha, die munisipale raad en die munisipaliteit ‘n aansoek om verlof tot appèl na die hooggeregshof gebring het.
Die aansoek is verlede week deur regter Daffue van die hand gewys. ‘n Dag later het Ngwathe se regspan in ‘n prokureursskrywe sy voorneme om die Appèlhof te nader, bekendgemaak.
Die munisipaliteit het vandag sy swye oor die hofstryd sedert sy aansoek om appèl deur die hooggeregshof van die hand gewys is, gelig met ‘n verklaring waarin Ngwathe se Uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer-Mthombeni, sê dat sy duidelikeid aan die gemeenskap wil gee oor die huidige regsprosesse, en oproepe vir onwettige aksie deur sekere groepe.
Die burgemeester sê die besluit van die raad om petisie tot die Appèlhof te rig teen die hooggeregshofbeslissing, is geneem na deeglike oorweging en op advies van die munisipaliteit se regsspan, gebaseer op die resolusie wat die raad op 25 Junie geneem het.
De Beer-Mthombeni sê verder die petisie na die Appèlhof het outomaties ‘n regsimplikasie wat beteken dat die vroeëre hooggeregshofbeslissing in Junie nie uitgevoer kan word alvorens die Appèlhof sy beslissing gemaak het nie.
Die munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamaha, het verlede week aan Gazette gesê die huidige administrasie het baie gedoen om dienslewering te verbeter, en sê die
munisipaliteit se probleme is ge-erf van ‘n vorige administrasie.
In die verklaring wat die munisipaliteit vandag uitgereik het, word gesê dat die munisipaliteit “verbind bly tot deursigte plaaslike regering en volhoubare dienslewering aan sy inwoners”.
Inwoners is gevra om hulle te weerhou van enige aktiwiteite wat dienslewering kan ontwrig of skade aan openbare infrastruktuur kan aanrig.
“Ons doen ‘n beroep op wetsgehoorsame burgers om saam met ons te werk om infrastruktuur te beskerm,” lui die verklaring. Daar is ook gevra dat enige dade van sabotasie, vandalisme of dreigemente vir beskadiging van munisipale eiendom en infrastruktuur, of teen raadslede of die munisipale bestuur, aan die polisie gerapporteer moet word. “Die beskerming van gemeenskapshulpbronne is ‘n gedeelde verantwoordelikheid,” het die munispaliteit beklemtoon.
AfriForum het intussen vroeër die week reeds aangedui dat hy ’n aansoek in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 bring om te vra dat die hofbevel van die Vrystaatse Hooggeregshof wat op 20 Junie deur regter Daffue gemaak, intussen uitgevoer word.
Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapstrukture, sê omdat die inwerkingstelling van beslissings dikwels uitgestel word hangende die uitkoms van ’n appèlproses, is dit in die belang van die gemeenskappe onder die Ngwathe-munisipaliteit se bestuur dat die uitspraak intussen inwerking gestel word.
Dié appèlproses kan tot drie jaar lank duur.
Wat het regter Daffue se beslissing in die Vrystaatse hooggeregshof bepaal:
Kragtens Daffue se uitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Die hof het verder beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering in die implementering van die bevel.
Daffue het ook beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum se regskoste moet betaal.
- Ngwathe se appèlaansoek na die hooggeregshof was ook met koste van die hand gewys.



