Besonders: Kerk se haan en die maan
Beplanning en komposisie is van die bestanddele vir 'n mooi foto, maar met kreatiwiteit kan jy 'n werklik besondere foto neem.
Parysenaar Johan Smit is nie net ‘n ervare hidrogeoloog nie. Hy is ook ‘n talentvolle fotograaf met ‘n oog vir ‘n besondere foto.
Met vanaand se maansverduistering het Johan inisiatief aan die dag gelê met ‘n unieke foto van die maan wat hy in Vredefort geneem het.
Johan het die NG Klipkerk se weerhaan op die kerktoring as voorgrond vir sy ongewone maanfoto gebruik en die eindresultaat is ‘n meesterstuk.
Johan vertel dat hy die foto met sy Canon M50 met ‘n 200mm Zoom-lens geneem het. Die oomblik toe die skaduwee begin inkom het, het die maan vinnig begin dowwer raak, en behoort die foto selfs nog mooier in volmaan te wees, sê Johan.

Johan vertel dat fotografie vir hom ‘n stokperdjie is wat hy baie geniet. Hy hou daarvan om natuurtonele en landskappe af te neem. Sy mooiste landskapfoto’s het hy in die herfs in die Drakensberge geneem, asook in die Overbergstreek waar die Langeberge ‘n dramatiese agtergrond skep vir goudgeel canolalande en grasgroen koringlande in die winter.

Vra jy hom wat die geheim vir ‘n goeie foto is, sê Johan die belangrikste is die komposisie en beligting, soos mooi sagte lig met ‘n sonsondergang. Natuurlik kan ‘n ongewone gebeurtenis soos volmaan of weerlig dramatiese foto’s oplewer, maar die gewone landskappe kan mooi weergegee word met die regte beplanning en komposisie, is sy raad vir amateur fotograwe.

Gaan kyk na Johan se foto’s op sy Facebook-blad met die naam Noah’s Art. Die skakel is https://www.facebook.com/share/1Cns7ACR15/


