Borskanker: Weet wat die risiko’s is
Borskanker is die mees algemeen gediagnoseerde kanker onder vroue in Suid-Afrika, volgens die 2023 Nasionale Kankerregister – en mans is ook nie immuun teen die risiko nie.
“Die Nasionale Kankerregister dui aan dat Suid-Afrikaanse vroue ’n een-in-27 leeftydrisiko het om borskanker te ontwikkel, en enigiemand kan geraak word, hoewel die risiko selfs hoër is vir dié wat genetiese mutasies dra wat sommige families vatbaar maak vir sekere tipes borskanker,” sê dr. Britta Dedekind, ’n borschirurg wat by Netcare Christiaan Barnard-hospitaal praktiseer, en ’n lid is van die Breast Interest Group of Southern Africa.
“Alle vroue behoort beide selfondersoeke en besoeke aan ’n dokter of kliniek vir ’n borsondersoek deur ’n opgeleide gesondheidswerker te prioritiseer, aangesien dit dikwels die plek is waar die eerste waarskuwingstekens van borskanker raakgesien word,” beveel sy aan.
Ken jou risiko
Verskeie faktore, insluitend familiegeskiedenis en borsdigtheid, kan ’n persoon se risiko verhoog. Dit moet met jou primêre gesondheidspraktisyn of ginekoloog bespreek word om te bepaal of jy vroeër of meer gereelde siftings behoort te ondergaan.
“Individue met ’n familiegeskiedenis van borskanker voor die ouderdom van 50 moet 10 jaar voor hul familielid se ouderdom van diagnose begin met sifting. Vir dié wat reeds as hoërisiko geklassifiseer is, kan beeldvorming vanaf so jonk as 30 aanbeveel word,” verduidelik dr. Dedekind.
Sy wys ook daarop dat ’n internasionale, gratis aanlyn hulpmiddel beskikbaar is by https://ibis.ikonopedia.com/, waar vroue hul relevante inligting kan invul om ’n teoretiese skatting van hul persoonlike risiko te kry om borskanker binne die volgende 10 jaar en oor hul leeftyd te ontwikkel.
“Dit is belangrik om te onthou dat enigiemand die risiko loop om borskanker te kry, en ons almal moet waaksaam wees – nie net vir ons eie gesondheid nie, maar ook vir ons geliefdes. Daar word geskat dat veranderbare leefstylfaktore soos rook, alkoholverbruik en dieetgewoontes tot soveel as 25% van ’n persoon se risiko kan bydra. Tesame met bewustheid, is gesonder keuses in ons daaglikse lewens ’n goeie beginpunt.”
Ken jou borste
“Selfs in die privaatsektor, waar siftingsinstrumente soos mammogramme en ultraklankskanderings makliker beskikbaar is, is daar geen plaasvervanger vir deeglike selfondersoek van die borste uit alle hoeke – arms op en arms af, voor ’n spieël en in ‘n lêposisie nie.
“Selfs by vroue met groter borste word subtiele veranderinge dikwels vroeg opgemerk, wat klinies betekenisvol kan wees. Dit is baie belangrik om jou borste goed te leer ken sodat enigiets wat vreemd lyk of voel, so gou as moontlik deur ’n gesondheidswerker nagegaan kan word.”
Sy waarsku dat klein tekens maklik geïgnoreer word, maar dat baie pasiënte later erken dat hulle maande lank bewus was van iets ongewoon voordat hulle ’n dokter gekonsulteer het. “Hoe vroeër borskanker opgespoor word, hoe makliker is dit om te behandel,” sê sy.
Kontroleer jou borste in die week ná jou menstruasie, in ’n goed beligte kamer, met die plat punte van jou vingers in ’n sirkelpatroon vanaf die tepel na buite oor die hele borsarea.
“Sluit die borswand, sleutelbene en oksels in wanneer jy ondersoek doen. Enige swelling, plooie, inkepings, of veranderinge aan die vorm of voorkoms van die bors, tepel of areola moet medies ondersoek word.”
Tendense en mites oor beeldvorming en behandeling
Moderne tegnologie het mammogram-ondersoeke aansienlik verbeter. “Die bors hoef nie meer so hard saamgedruk te word om beeldvorming te verkry nie,” sê dr. Dedekind.
“Alhoewel die meeste siftings ná 40 aanbeveel word, word jonger vroue ook soms gediagnoseer, dus moet enige vermoede, ongeag ouderdom, met beeldvorming opgevolg word. Vroue met digte borsweefsel kan ultraklank benodig om abnormaliteite te identifiseer wat moeilik op ’n mammogram sigbaar is.
“’n Mammogram neem slegs ’n paar minute en dit is regtig nie pynlik nie – dit is ’n mite wat dringend uit die weg geruim moet word,” beklemtoon sy.
“’n Ander mite is dat ’n borsprobleem noodwendig ’n mastektomie beteken. In werklikheid beweeg die behandelingstendens na meer presiese en minder ingrypende opsies. Moderne, doelgerigte behandelings gee dikwels beter resultate en help dat groot operasies dikwels vermy kan word. Die fokus lê nou op persoonlike, multidissiplinêre sorg wat internasionale beste praktyke weerspieël.”



