Ma en dogter saam by SA Landloop-byeenkoms
"Die lekkerte is om dit saam te doen, gesels ma en dogter, en as 'n bonus vat die saam-deelneem hulle na plekke," vertel die twee.
Soos vinkel en koljander is die een nie presies soos die ander nie, maar deel ma en dogter iets besonders. Die negejarige Anlé Beukes, en haar ma, Annemie, is albei talentvolle atlete. Dié twee het vanjaar vir die eerste keer saam aan die SA Landloop-kampioenskappe deelgeneem.
Hoewel dit nie een van die twee se eerste SA-deelnaame was nie, en hulle nie gelyktydig by vanjaar se SA’s gehardloop het nie, het ma en dogter teen dieselfde pas gehardloop en dieselfde tye behaal – Annemie in die kleure van Parys Multisport in die Senior Vroue 4km, en Anlé in die kleure van Primêre Skool Parys vir dogters 9 jaar 2km. Anlé was vyf toe sy begin landloop hardloop het, en neem ook aan die 600m, 60m en 80m items deel. Annemie het self ook op skool al op die atletiekveld uitgeblink. Op laerskool het sy beide veld- en baanitems gedoen, maar op hoërskool begin fokus op die 400m, 800m, 1 500m en landloop.

Na skool het sy die atletiekveld verruil vir padwedlope en het sy vele marathons al aangepak waaronder twee Comrades-marathons, die Twee Oseane en die Skyrun.
Annemie en Anlé oefen dikwels saam en pas gemaklik ‘n 1km, 2km of 8km se oefen in voor skool. Annemmie het Anlé se sporttalent wat sy van beide haar ouers kry, klein-klein raakgesien toe hulle saam die parkrun en myrun gedoen het.
Naas atletiek, landloop en tweekamp speel Anlé ook hokkie, netbal en tennis, en doen gimnastiek.



