Blikoortjie-kleuters leer meer van voëls
Die kinders is nie net meer geleer van die gewoontes van voëls nie, maar ook prakties gewys wat om te doen sou jy 'n beseerde voël of babavoëltjie optel.
Marisa Louw wat 11 van die gryskopmeeu kuikens wat vroeër vanjaar deur SA Wildflife Rehabilitation Centre van ‘n konstruksieperseel gered is, grootmaak om uiteindelik in die natuur te kan vrylaat, het verlede week ‘n draai by Blikoortjies-kleuterskool gemaak om die kleuters meer van voëls te leer.
Sy het interessanthede oor voëls met hulle gedeel met behulp van vingerpop-spel, en hulle ook prakties gewys wat om te doen sou jy ‘n beseerde voël, of babavoëltjie optel. Haar raad vir die kleuters was om ‘n kartonboks te kry waarin jy ‘n warmwatersak, sagte kombers of selfs ‘n ou T-hemp sit, en dan ‘n volwassene te vra om die warmwatersak te vul met warm water.
Die sak moet onderin die boks geplaas word, met die komberse bo-op. Sodra die boks gereed is, kan die voëltjie gehaal en in die boks geplaas word, en kan Marisa wat baie ervaring het met die versorging en rehabilitering van diere, veral voëls, geskakel word by 064 963 5386 om die voëltjie te kom haal sodat hy die regte versorging kan kry.
“Dit is ook belangrik om wanneer jy klaar met die voëltjie gewerk het, jou hande behoorlik te was,” het sy gesê.
Die kleuters het na die praatjie die kans gehad om wedvlugduiwe te kon vashou en te sien hoe hulle losgelaat word.






