Local newsNews

Bakkie ploeg deur skoolheining

Die ongeluk het nie net groot skade vir die skool veroorsaak nie, maar ook baie ontwrigting veroorsaak.

Skade van R20 000 is Maandag in die vroeë oggendure aan die hek en palisades van Dome Gekombineerde Skool in Loopstraat aangerig nadat ‘n man beheer oor sy bakkie verloor het, en toe eers in ‘n kragpaal, en daarna in die skoolheining ingeploeg het.

Pamela Grobler wat regoor die skool woon, vertel dat die ongeluk na 02:00 die oggend gebeur het. Sy was badkamer toe en het net weer teruggeklim in die bed. Grobler vertel hoe sy gehoor het hoe ‘n motor vinig in die straat afkom en daarna die oorverdowende slag. Deur haar oop kamervensterblinders kon sy die vonke sien van die kragkabel wat rondgeswaai het nadat die kragpaal getref is. Haar man en skoonsus Jean, wat by hulle aan huis bly, het ook albei wakker geskrik van die slag.

“Ons eerste gedagte was dat iemand moontlik ons motors wat voor in die erf geparkeer was, getref het, omdat die slag so naby was,” vertel Grobler.
Toe sy deur die venter kyk het sy die bakkie op sy sy sien lê in die skool se erf.

Die erg beskadigde palisade panele.

As gevolg van die skade aan die hoofhek en heining, moes gereël word vir bykomende sekuriteit op die skoolperseel.

Dat die bestuurder van die voertuig nie dood is nie, is ‘n wonderwerk, meen Grobler, omdat een van die palisade pale deur die windskerm van die voertuig gesteek het. Grobler vertel verder dat hulle dadelik uitgegaan het om te gaan help. Die man is nie in die ongeluk beseer nie, maar is deur die polisie in hegtenis geneem vir dronkbestuur, en klagte van roekelose en nalatige bestuur.

Volgens die skoolhoof van Dome Gekombineerde Skool, Wilna van Buren-Scheele, is die hoofhek, hekmotor en drie van die palisade panele in die ongeluk beskadig.

Die skool het nie versekering vir die heining nie, maar het ‘n anonieme skenker Dinsdag gehelp met ‘n skenking van palisade panele om die beskadigde panele te vervang.

Van Buren-Scheele sê die hek kan herstel word, maar die hekmotor sal vervang moet word. Daar moes ook ‘n wag vir 24 uur sekuriteit op die perseel gehuur word totdat die hek en palisade heining herstel is wat bykomende kostes vir die skool gebring het.

Elektrisiteitstoevoer na die skool en huise in die omgewing is Maandag kort na die ongeluk deur die munisipaliteit herstel, maar was daar naas die skade ook groot ontwrigting vir die skool met die skoolkantoor wat nie kon funksioneer nie weens die kragonderbreking, en kinders wat deur ‘n alternatiewe hek in en uit die skoolterrein moes beweeg.

Van Buren-Scheele het ná die insident inwoners rondom die skool bedank vir hulp en ondersteuning in die vroeë oggendure na die voorval, maar ook vir voortdurende betrokkenheid en oplettendheid waarmee hulle uitkyk vir die skool en rapporteer as iets vreemd of verdag gesien word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button