Groot kommer oor toename in saaddiefstal op Vrystaatse plase
Parys Gazette het in Mei vanjaar ook berig oor 'n voorval toe 30 ton soja in die oggendure op ‘n plaas in die Vredefort-distrik gesteel is, en toe ure later in Nigel by 'n weegbrug gekry is.
Vrystaat Landbou (VL) sê die organisasie is bekommrd oor die toename in saaddiefstal wat sedert September op plase in die Vrystaat voorkom.
Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis, sluit areas wat alreeds geteiken is onder meer Reitz, Ventersburg, Viljoenskroon en Wesselsbron is.
Mielie- en sonneblomsaad waarvan die waarde miljoene rande beloop, is vanaf plase gesteel en met voertuie na sekere afsetgebiede vervoer.
Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee meen die diefstal van saad gaan ’n enorme impak op boere se boerderypraktyke hê, veral ten opsigte van hul opbrengste asook op voedselsekuriteit.
Boere word aangeraai om hul pak- en bergingsplekke vir saad, kunsmis, gif, diesel en ander produkte met sekuriteitstegnologie soos ligte, kameras en alarms toe te rus om beweging, veral na-ure, vroegtydig op te merk. Boere word verder aangeraai om geen grootskaalse landbouprodukte of implemente gedurende nagtelike ure op hul landerye te laat, wat geleentheid vir opportunistiese kriminele gaan bied om dit te teiken en daarmee weg te kom nie.
“Die aanloop tot die feesseisoen het reeds begin en die feit dat boere besig is om hul lande te bewerk, laat die moontlikheid ontstaan dat dié tipe misdaad kan toeneem. Boere word dus versoek om baie paraat te wees om hul eiendom te beskerm en enige verdagte beweging aan die SAPD te rapporteer.” sê Le Roux.
VL sê hy sal ook die SAPD versoek om ondersoek in te stel na die voorvalle wat gerapporteer is. Verdere versoeke na Landelike Veiligheidskoördineerders om bewusmakingsveldtogte te hou, sal ook van
stapel gestuur word.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/news-news/2025/05/15/graandiewe-verdwyn-met-soja-oes/



