Pas bekend: Provinsie sal moet ingryp by Ngwathe
AfriForum se hofstryd teen die Ngwathe munisipaliteit het al in Desember 2024 begin toe 'n dringende aansoek om die munisipaliteit onder administrasie te plaas deur AfriForum na die Vrystaatse hooggeregshof gebring is.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se petisie tot die Appèlhof teen ‘n vroeëre hooggeregshofbeslissing vir provinsiale ingryping by dié munisipaliteit het misluk.
Alta Pretorius, die burgerregte organisasie AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek het pas bekend gemaak dat die Hoër Hof van Appèl Ngwathe se aansoek om na hierdie hof te appèlleer met koste van die hand gewys het. Pretorius sê dit beteken dat die Vrystaatse provinsiale regering nou by die Ngwathe munisipaliteit moet ingryp, ‘n administrateur moet aanstel en dat die Ngwathe Raad moet ontbind.
Volgens die hofstukke was die bevinding dat daar geen redelike kans op sukses in ‘n appèlsaak sal wees nie.
Regter J.P. Daffue se bevel, wat in Junie in die Vrystaatse Hoë Hof in die guns van AfriForum gemaak is, kon na twee maande tot nou toe nog nie tot uitvoer gebring word nie, omdat die munisipaliteit en sy munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, ‘n petisie tot die Appèlhof gerig het kort ná die Hooggeregshof ‘n aansoek om verlof tot appèl van Ngwathe, die raad en die munisipale bestuurder teen Daffue se beslissing van die hand gewys het.
Volgens Daffue se uitspraak moet die Vrystaatse uitvoerende raad binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) van die Grondwet ‘n herstelplan opstel om dienste te herstel en skuldverpligtinge na te kom, die Ngwathe Munisipale Raad ontbind, en ‘n administrateur aanstel. Daar moet ook elke drie maande onder eed aan die hof verslag gedoen word oor vordering.



