Man bedrieg motorhandelaar om bakkie te koop
Die man het met vals dokumente 'n ooreenkoms met die handelaar geteken.
‘n Man wat na bewering ‘n vervalste werkskontrak en ander vals dokumente ingedien het om finansiering vir ‘n dubbelkajuit bakkie te kon kry, is in die Klerksdorpse landdroshof borg van R15 000 toegestaan.
Die 40-jarige Richard Vincent Zitha moet nou op 19 November in die Gespesialiseerde Hof vir Kommersiële Misdrywe in Klerksdorp verskyn op ‘n klag van bedrog.
Daar word beweer dat Zitha op 13 November 2024 homself valslik as ’n werknemer van Apex Edge Construction (Edms) Bpk voorgedoen het toe hy aansoek gedoen het vir voertuigfinansiering by Ford Finance Service in Klerksdorp, sê Sivenathi Gunya, kommunikasiebeampte van die Nasionale Vervolgingsgesag in Noordwes.
Volgens Gunya het ondersoeke aan die lig gebring dat die man glo ’n werkskontrak vervals en ander bedrieglike dokumente ingedien het as deel van sy aansoek vir ’n Ford Ranger Double Cab 2024-model.
Sy aansoek is goedgekeur, en hy het daarna ’n finansieringsooreenkoms met Ford Finance aangegaan om die voertuig ter waarde van R760 177,25 te koop.
Op 15 November 2024 het hy ’n aanlyn kontrak met die handelaar onderteken.
Die werkskontrak wat hy ingedien het, het aangedui dat hy vanaf 1 November 2024 as bestuurder by Apex Edge Construction aangestel is.
Die staat beweer dat Zitha geweet het dat die voorstellings vals was en dat hy dit met die bedoeling om die klaers te mislei en te benadeel gedoen het.
Die Direkteur van Openbare Vervolgings in die Noordwes, dr. Rachel Makhari, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en ander wetstoepassingsvennote geprys, vir hul werk wat gelei het tot die vinnige inhegtenisneming en hofverskyning van die beskuldigde.



