Plan gemaak met R59 se gate
Daar was die afgelope drie weke ernstige kommer oor die veiligheid van die R59 weens groot en diep slaggate.
Daar is die afgelope week gewerk op die R59 om noodherstelwerk aan ‘n groot hoeveelheid slaggate op die gedeelte tussen Parys en die N1 te doen.
‘n Groot verbetering kan reeds gesien word nadat swaar reën veral die afgelope twee weke die toestand van die pad drasties versleg het, en daar kommer was oor die veiligheid van motoriste veral met die Feesseisoen wat voorlê. Die R59 dra daagliks swaar verkeer en is ook die alternatiewe roete vir die N1.
Hilary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Paaie en Vervoer het bevestig dat meerderheid van die slaggate met die noodherstelwerk toegemaak is, en was daar lof vir die vinnige reaksie om die noodherstelwerk te doen ter wille van die veiligheid van motoriste. Gazette het die afgelope week berig oor talle motors wat daagliks langs die pad staan weens band, wielvelling en windskermskade, en is ‘n ernstige pleidooi tot die departement gerig om aandag te gee aan die pad waaraan gehoor gegee is.

Op die gedeelte van die R59 tussen die N1 en Sasolburg is daar nog ‘n paar diep slaggate, maar sal voortgegaan word om noodherstelwerk te doen soos wat materiaal beskikbaar is en weerstoestande dit toelaat.







