Local newsNews

Tornado buite Heilbron gesien

Swaar reën het sedert verlede week in Heilbron geval en is 'n totaal van sowat 40mm reën Sondag en vandag in die Heilbron-distrik gemeet.

“Ek het gestop om foto’s te neem van die stormagtige wolke. Ek het die punt sien vorm, maar nie gedink dit is wat gaan gebeur nie. Al wat ek kon hoor was sterk wind en swaar donderweer. Die donderweer het onophoudelik geblits.”

Só vertel Tanya van Rooyen oor die tornado wat sy vanmiddag deur haar kameralens net buite Heilbron op foto’s en video vasgevang het. Die video is sedertdien wyd gedeel.

'n Skermgreep uit Tanya van Rooyen se video van die tornado wat vanmiddag buite Heilbron gesien is. Foto erkenning: Tanya van Rooyen
‘n Skermgreep uit Tanya van Rooyen se video van die tornado wat sy vanmiddag buite Heilbron geneem het. Foto erkenning: Tanya van Rooyen

Tanya het die video omstreeks 15:01 sowat 15km buite Heilbron naby Vegkop op ‘n plaaspad geneem wat sy gery het op pad huis toe.

“Ek het slegs ‘n paar sekondes afgeneem voordat die storm bo-oor ons is en ek nie meer kon sien waar hy gaan nie,” vertel Tanya.

Die treffende foto van die tornado is vanmiddag deur Tanya van Rooyen geneem.
Die treffende foto van die stormagtige wolke is deur Tanya van Rooyen geneem.

Tanya kon wel sien hoe ‘n paar sinkplate deur die tornado in die veld opgetel en rondgewaai is.

“Dit was die eerste keer wat ons so iets hier beleef het,” het sy aan Gazette vertel. Geen bevestiging van skade weens die tornado kon met die skryf van die berig gekry word nie.

Ongeveer 40mm reën is in totaal Sondagaand en vandag in die Heilbron-distrik gemeet, nadat swaar reën ook velede week in Heilbron geval het.

Meer oor tornado’s

‘n Tornado is ‘n weerverskynsel wat uit donderstorms ontwikkel. Hoewel daar verskillende menings is oor hoe ‘n tornado onstaan, stem meeste kundiges saam  dat dit te make het met vertikale draaibewegings,wat reeds in die wolk teenwoordig is en dan toeneem.

Die sigbare tregter bestaan hoofsaaklik uit waterdruppels, wat weens kondensasie in die tregter vorm. ‘n Sterk warrelwind kom gewoonlik naby die grond voor waar stof,
blare en ander los materiaal opgeraap word.

Die deursnee van die tregter is gemiddeld minder as ‘n paar honderd meter, maar sommige tornado’s is groter, met ‘n deursnee van meer as een kilometer. Die beweging van lug in
‘n tornado is gewoonlik siklonies, met ander woorde, in die suidelike halfrond waai die wind kloksgewys daarom.

Die maksimum windspoed in ‘n tornado is gewoonlik tussen 120 en 360 km/h, maar kan selfs sterker as 432 km/h wees. Tornado’s het ook ‘n kenmerkende harde geluid. (Bron: Weathersa).

Nog reën kom

Daar is vir die Vrystaat vir vandag en ook die res van die week reën voorspel, met donderstorms veral in die oostelike dele van die provinsie.

‘n Vlak 4 en vlak 5 waarskuwing ten opsigte van donderstorms, hael en vloede is uitgereik wat ook die Vrystaat en Noordwes provinsies sal raak.

Swaar reën is ook vir die week in die Vaaldam se opvangsgebied voorspel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button