Graan SA waarsku oor kritieke toestand in koringbedryf
Brood is ’n stapelvoedsel vir miljoene Suid-Afrikaners, maar min besef dat die produsente wat hierdie gewas verbou, onder geweldige druk staan
Graan SA waarsku dat die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse koringbedryf in ernstige gevaar is, met produsente wat toenemende insetkoste, lae internasionale pryse en onvoldoende markbeskerming in die gesig staar. Graan SA het daarom ’n ernstige beroep op die regering, die waardeketting en die publiek gedoen om die krisis dringend aan te spreek.
Die organisasie sê insetkoste, onderdrukkende internasionale pryse en ’n tariefstelsel wat nie tred hou met markrealiteite nie, plaas produsente op die rand van finansiële ondergang, en indien ingryping nóg vertraag word, kan plaaslike produksie onomkeerbaar afskaal.
Koringbedryf in kritieke toestand
Volgens Richard Krige, voorsitter van Graan SA, is die huidige marktoestande en kostestrukture onvolhoubaar vir plaaslike produsente. “Met produksiekoste van sowat R16 000 per hektaar en ’n gelykbreekpunt van minstens 3,4 ton per hektaar, is die huidige prysvlakke nie lewensvatbaar nie.,” sê Krige.
Belangrike feite oor die bedryf se impak:
- Koring maak slegs 18% uit van die koste van ’n brood. Op ’n brood van R17,92 ontvang die produsent net R3,23. Dus, sal ‘n verhoging in die koringprys nie ‘n beduidende impak op die prys van ‘n brood hê nie.
- Die bedryf skep sowat 12 600 werksgeleenthede, waarvan 73% in die Wes-Kaap is. Dit neem nie werkskepping van die ander lede van die waardeketting, soos insetverskaffers, silo operateurs ens., in ag nie.
- Die wegval van plaaslike produksie kan verbruikers tot R643 miljoen per jaar duurder te staan kom vir brood van dieselfde gehalte.
Dringende aksies wat nou nodig is
Graan SA beklemtoon vyf prioriteit intervensies wat onmiddellik aandag verg:
1. ‘n Doeltreffender invoertariefstelsel
- ’n Aangepaste basisverwysingsprys
- ’n Outomatiese snellermeganisme.
- Die huidige aansoek word vertraag deur die meulbedryf se weerstand teen verwysingsprysverandering.
2. Beperking of invoere tydens plaaslike strooptyd
Groot volumes invoere net voor en tydens strooptyd druk plaaslike pryse kunsmatig af en ondermyn produsente se inkomste.
3. Moderne genetiese en produksietegnologie
- Regulasies van nuwe teeltegnieke moet bygewerk word
- Witkoring se insluiting in die nasionale mandjie sal diversifikasie en opbrensstabiliteit versterk
-
Produksieondersteuning en risiko-bestuur
- Gesubsidieerde oesversekering
- ’n Regverdiger ligginsdifferensiaalstelsel op SAFEX.
-
Herstel van effektiewe vervoer- en logistieke strukture
Die koste van swak logistiek word direk deur produsente én verbruikers gedra.
“As produsente val, val die hele waardeketting”
Krige waarsku dat die tyd vir besluitneming vinnig opraak: “Sonder vasberade en gekoördineerde ingryping van die staat én die waardeketting, staan die koringbedryf voor ’n werklike voortbestaanrisiko. “As produsente val, val die hele ketting – en uiteindelik betaal die verbruiker en plattelandse ekonomieë die prys.”



