‘n Fees van liggies dié naweek by Najaarsrus te sien
DieNajaarsrus liggiefees is van 5 tot 7 Desember en word afgesluit met 'n Kerssangdiens.
Die Najaarsrus Tuiste vir Bejaardes in Dolfstraat maak hierdie naweek sy hekke oop vir inwoners en besoekers aan die dorp met ‘n liggieskouspel wat van 5-7 Desember gesien kan word.
Hoewel op kleiner skaal as die Abraham Kriel-liggiefees in Potchefstroom wat oor jare bekendheid verwerf het, beloof die eerste Kersliggiefees vir Parys iets besonders te wees.
Die liggiefees kan saans tussen 18:00 en 22:00 besoek word.

Toegang
Toegang kos R10 per volwassene en R5 per kind – baie goedkoper as ‘n fliekkaartjie en ‘n wonderlike geleentheid om saam as gesin onder die sterrelig te wees.
Die fondse wat ingesamel word gaan uitsluitlik vir behoeftige bejaardes wat finansieël deur Najaarsrus gedra word.
Onthou ook ‘n geldjie vir lekkernye wat te koop sal wees.

Besonderse kersboom
Die liggiefees is moontlik gemaak danksy die oop hand van borge, maar sal jy ook bejaardes se eie handewerk sien met ‘n besonderse Kersboom.
Najaarsrus-tuin
Die pragtige Najaarsrus-tuin is die trotse werk van die 90-jarige Alet Fourie. In die tuin is ook draad-kunswerk wat deur van die bejaardes self gemaak is.
Kerssangdiens
Die liggiefees word Sondagaand, 7 Desember om 18:00 afgesluit met ‘n Kerssangdiens in die Najaarsrus-tuin. Enigeen is welkom om die Kerssangdiens gratis by te woon.



