Eerste vir dié perde in Parys
As jy Saterdag in Parys is, maak seker jy maak ook 'n draai by die Kers Saalperdskou.
Percherons, Clydesdales en Shires is die afgelope naweek vir die eerste keer in Parys gesien as deel van die Summer Show wat deur die Arabierperd Genootskap van Suid-Afrika by die AfriDome gehou is.
Die Draught (trek) perde is skaars, nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die wêreld, en is daar in Suid-Afrika net sowat 250 Percherons, 25 Clydesdales en 40 Shires.



Hiervan het in totaal 29 van die drie perderasse aan die Best of Breed, karretjie, in-hand en ryklasse by die skou deelgeneem.


Volgens Morné Botha is dié swaargewig trekperde met hul kenmerkende vere op die voete, vroeër jare hoofsaaklik gebruik om byvoorbeeld kanonne en ploeë te trek veral in Europa, Engeland en Skotland – take waarvoor trekkers vandag gebruik word. Die perde kan tot ‘n ton weeg en is van die aanskoulikste klasse by skoue die Turn Out Klasse waar rooi wol of linte onder meer deur die hare gevleg word.

Die drie raskampioene wat die naweek aangewys is, was Dillars Robbie (Clydesdale-wenner) van Piberstud, Trodam Tiny (Shire-wenner) van die Mont-Belle stoet, en Mafuru Flavion (Percheron-wenner) van die Jozaak Arabier & Percheron-stoet.

Kers Saalperdskou
Die Saalperdskou het die week by die AfriDome begin en duur tot môre, Saterdag 6 Desember. Die publiek word genooi om te kom kyk na veral die grootkampioenskapklasse wat beloof ‘n groot hoogtepunt op die skouprogram te wees.



