Formidabele atletiekafrigter en leier vir oulaas gegroet
Gert Prinsloo sal met net die mooiste herinneringe onthou word vir die nalatenskap wat hy agterlaat.
Hy was vurig in sy hart, maar altyd beheersd en beredeneerd. ‘n Lekker pêl, en atletiekafrigter van formaat met SA en Vrystaat-kampioene in sy stal. So sal Gert Prinsloo onthou word. ‘n Man wat nie net diep spore in die destydse munisipale bestuur van Parys, en op die atletiekveld agterlaat nie, maar ook in die harte van sy gesin, familie, vriendekring, oudkollegas en atlete wat hy oor jare afgerig het.
Gert is Saterdag in die ouderdom van 76 jaar oorlede. Die troosdiens is vanoggend (19 Desember) om 11:00 vanuit die NG Suid-gemeente.

‘n Vol lewe
Gert is in Vereeniging gebore as die middelste van drie seuns van Hennie en Babs Prinsloo. Hy het grootgeword in Ladybrand.
Na skool sluit hy aan by die Suid-Afrikaanse Vloot en doen twee jaar diens in Gordonsbaai en Simonstad.
Daarna sou hy vir drie jaar by die Ladybrand Koöperasie werk, voordat hy in ongeveer 1969 ‘n pos by die destydse Bantu Administrasie in Kroonstad aanvaar.
In 1977 sluit hy aan by die Parys Munisipaliteit en dien as interne ouditeur vir die Noord-Vrystaat, voordat hy aangestel word as stadsklerk in Tumahole vir die destydse Parys Oorgangsraad. Sy leierskap in ‘n veranderende munisipale struktuur en oorgangstydperk het uitgestaan.
In 2002 tree hy af met vervroegde pensioen en verhuis na Steynsburg na die plaas Kromkloof.
Na ‘n paar jaar in Christiana vestig hy hom weer in 2011 in Parys.
Deur die jare het talle atlete onder sy bekwame afrigtershand hul provinsiale en nasionale kleure verwerf en kry hy erkenning onder meer van die destydse Parys Ondersteuningsklub vir die rol wat hy gespeel het in atletiekafrigting in Parys.
Ook in die kerk is sy leierskap gesien, en dien hy as leierouderling in die NG Wes-gemeente en help met Jeug koördinering.
Gert was ‘n man na wie jy kon opkyk. ‘n Leier, ‘n ware vriend, toegewyd in watter taak hy ookal moes aanpak. ‘n Man soos die digter Jan F.E. Cilliers beskryf het –


