Local newsNews

Borg vir reisagent wat klaers na bewering bedrieg met luukse oorsese reise

Die saak is uitgestel na Februarie vir verdere ondersoek.

Borg van R100 000 is vandag in die Pretoriase Landdroshof  toegestaan aan Premila Shunmugam (57), ‘n reisagent van Silver Touch Events van Greenstone Hill wat tereg staan op drie aanklagte van bedrog ter waarde van R400 000.

Daar word beweer dat Shunmugam in Julie vanjaar dieselfde modus operandi gebruik het om verskeie kliënte te bedrieg. Sy het na bewering aangebied om die klaers te help om luukse reise oorsee deur haar reisagentskap te bespreek.

Nadat ’n ooreenkoms bereik is, sou die klaers fondse na haar oorplaas. Ná ontvangs van die geld het die beskuldigde egter na bewering geen dienste aan die klaers gelewer nie, en ook nie die fondse terugbetaal nie.

Die klaers het die sake daarna by verskeie polisiekantore aangemeld.

Shunmugam het haar op 8 Desember by die Wierdabrug-polisiekantoor aangemeld om ’n verklaring aan die polisie te gee, en is ná ondervraging in hegtenis geneem.

Tydens die borgverrigtinge het die staat Shunnagam se se vrylating op borg teengestaan. Die aanklaer, Chris Maruma, het ’n beëdigde verklaring van die ondersoekbeampte, sersant Martin Malapela, voorgelê waarin verklaar is dat Shunmugam nie ’n eerste oortreder is nie. Sy is in 2006 ook aan bedrog skuldig bevind.

Die beëdigde verklaring het verder aangedui dat daar tans 37 dossiere teen haar in Gauteng en ander provinsies geopen is en dat sy, nadat sy na ’n ander gebied verhuis het, geweier het om die polisie van haar nuwe adres te voorsien. Die landdros het egter gesê dat, hoewel daar verskeie dossiere teen die beskuldigde geopen is, sy nog nie aangekla is nie, en dat een vorige skuldigbevinding nie noodwendig beteken dat sy ’n geneigdheid het om misdaad te pleeg nie. Hy het derhalwe bevind dat daar buitengewone omstandighede bestaan om die beskuldigde wel op borg vry te laat.

Die saak is tot 18 Februarie 2026 uitgestel vir verdere ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button