Roekelose afvuur van vuurwerke lei tot man se dood
'n Man is vir die moord in hegtenis geneem en sal Maandag voor die hof verskyn.
Die polisie in Lethabong naby Rustenburg ondersoek klagte van moord en opsetlike saakbeskadiging na ‘n voorval vanoggend omstreeks 03:25 waartydens ‘n persoon gesterf het tydens ‘n voorval by ‘n taverne.
Daar word beweer dat daar mense in die taverne in Lethabong was toe sommige individue, in die taverne, begin het om vuurwerke af te vuur. Diegene wat daarteen gekant was, het hulle gekonfronteer, wat tot ’n bakleiery gelei het wat binne die taverne begin en daarna na buite geskuif het.
Tydens die bakleiery is ’n 38-jarige man met ’n skerp voorwerp gesteek en het hy op die toneel gesterf.
Daarna het ’n groep wat saam met die oorledene was, na bewering die verdagte aangeval, wat daarin geslaag het om te voet van die toneel te vlug. Die groep het toe die verdagte se voertuig, wat naby geparkeer was, geïdentifiseer en aan die brand gesteek. Na bewering het die verdagte, nadat hy verneem het dat sy voertuig aan die brand gesteek is en uit vrees om na die taverne terug te keer, na die polisiestasie gegaan om hulp te soek.
Nadat hy as ’n moordverdagte geïdentifiseer is, is hy onmiddellik in hegtenis geneem en aangehou.
Die 45-jarige verdagte sal na verwagting Maandag in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane verskyn op ’n klag van moord. Die moontlikheid van verdere inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie, het die polisie gesê.
Die waarnemende Polisie Kommissaris van Noordwes, majoor-generaal Ryno Naidoo, het die voorval ten sterkste veroordeel. “Dit is teleurstellend dat, ten spyte van talle waarskuwings oor die versigtige gebruik van vuurwerke, sommige gemeenskapslede steeds roekeloos optree tot so ’n mate dat vuurwerke selfs binne ’n taverne afgevuur is en ’n persoon uiteindelik sy lewe verloor het. Ons betuig ons innige meegevoel met die familie en wil die publiek verseker dat ons geen steen onaangeroer sal laat om te verseker dat geregtigheid geskied,” het Naidoo gesê.



