Chrissanloo se kinders het jou hulp nodig vir die nuwe skooljaar
Skryfbehoeftes en skoolklere kan by VVA se kantoor in Buitenstraat afgegee word.
Met die nuwe skooljaar wat op 14 Januarie begin, is daar ‘n groot behoefte aan skooldrag en skryfbehoeftes vir Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se Chrissanloo Huis van Veiligheid, die Lerato Huis van Veiligheid, kinders in pleegsorg, maar ook kinders in behoeftige gesinne na wie die VVA omsien.
Huis Chrissanloo het tans vyf kinders (seuns en dogter) tussen die ouderdom van agt en 13 jaar. Lerato Huis sien om na nege kinders tussen die ouderdom van drie maande en nege jaar. Enige skenkings van laerskoolklere sowel as sportdrag van skole in Parys, asook skryfbehoeftes en boekoortreksels kan afgegee word by die VVA-kantoor in Buitenstraat.
* VVA het op 12 Desember ‘n spesiale kerspartytjie vir minderbevoorregte kinders uit die gemeenskap by De Vette Mossel gehou.
Daar is geswem en gespeel en dit was hope pret gewees. Elke kind is ook bederf met lekkernye en ‘n spesiale geskenk danksy die gemeenskap wat hul harte oopgemaak het vir die kinders.





