Parys skud sy feesvere reg
Die dorp het sy naam te danke aan die Duitse landmeter, Schilbach, vir wie die dorp aan die oewer van die Vaalrivier, herinner het aan die Franse hoofstad Paris.
Die Vrystaatse dorp Parys vier vanjaar sy 150ste bestaansjaar en word beplan om die dorp se feesvere behoorlik te skud vir ‘n jaar van feestelikheid om die dorp te vier.
Feesbaniere is reeds in Desember by die dorpsingange opgesit, en sal die baniere nou geskuif word na strategiese punte waar die meeste voete beweeg om seker te maak dat elke besoeker aan die dorp kan deel in die feestelikheid.
Die plan is om die viering deel te maak van elke geleentheid wat deur die loop van die jaar in die dorp aangebied word. Spesiale gedenk memorabilia sal binnekort by die Parys Info & Toerismekantoor in die dorp se hoofstraat te koop wees, maar kan besighede nou reeds van die groter plakkers gratis by die Info-kantoor kry. Daar sal ook vlae beskikbaar wees en kan belangstellende borge vir die straatbaniere ook bemarkingswaarde kry deur borgskappe. Gesels gerus met die personeel by die Info-kantoor oor hoe jy betrokke kan raak by die feestelikhede wat beplan word, of oor ‘n borgskap.
Parys Info & Tourism is tans besig met die hersiening van sy webtuiste om seker te maak dat alle besighede en rolspelers in die gasvryheidsbedryf se kontakdetail reg is, met die oog op toerisme bemarking vir die dorp se 150 jaar-viering. Kontakdetail kan deurgegee word na info@parysinfoandtourism.co.za of besoek die webtuiste https://parysinfoandtourism.co.za/ en kyk na wat die pragtige juweel aan die oewer van die Vaalrivier besoekers bied.

Die naam Parys
Die dorp het sy naam te danke aan die Duitse landmeter, Schilbach, vir wie die dorp aan die oewer van die Vaalrivier, herinner het aan die Franse hoofstad Paris aan die Seinerivier. Een van die dorp se strate is ook na Schilbach vernoem.
Die dorp het sy ontstaan te danke gehad aan die NG Gemeente Kroonstad wat ‘n nuwe gemeente noord van die Renosterrivier wou stig. Daar is op die plaas Klipspruit besluit, wat ‘n baie mooi uitsig oor die Vaalrivier gehad het.




