Frans het die lewe met ‘n uitroepteken geleef
Frans was baie geliefd in die Parys-gemeenskap en het veral by die Parys-rolbalklub sy plek volgestaan nie net as speler nie, maar as voormalige president en komiteelild.
Carpe Diem! Dit was hoe Frans van Niekerk geleef het. Hy het elke dag aangegryp om die meeste daarvan te maak. Iemand wat geleef het met entoesiasme – of dit op die rolbalbaan, op ‘n seiljag, ‘n motorfiets, of tussen sy geliefdes was. Op sy unieke manier het hy ‘n hartsplek in mense se lewens gehad.
Frans is op 1 Februarie in die ouderdom van 72 jaar oorlede. ‘n Viering van sy lewe is Vrydag vanuit die Methodiste Kerk gehou.
Frans se lewensverhaal was so vol en uniek soos wat hy was. Nadat hy sy lewe lank as ingenieur sy eie onderneming bedryf het, het hy kom aftree in Parys, maar nie een dag stilgesit nie.
Hy was gereeld op die gholfbaan as lid van die Parys-gholfklub, en het uitgestaan op die rolbalbaan waar hy Parys onder meer ook in 2025 by die Noordwes-liga verteenwoordig het. Saam met sy spanmaats wen hulle die Noordwes eerste liga einde 2025.
Hy was ‘n voormalige president van die Parys-rolballklub, en het gehelp waar hy kon met onderhoud en herstelwerk by die rolbalklub. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

Hy was ‘n entoesiastiese motorfietsryer sy lewe lank wat aan verskeie klubs behoort het. Ten tyde van sy dood was hy ‘n Platinum-lid van die Ulysses SA-motorfietsklub vir motorfietsryers bo 50. jaar.
Op sy dag het hy met ‘n seiljag om die Vaaldam geseil.
Radiobeheerde vliegtuie was vir hom ‘n groot passie en was hy verbonde aan die Vaal Radio Flyers-klub in Sasolburg.
Sy liefde vir die buitelewe en die natuur het uitgestaan, en om te kamp was een van sy groot vreugdes.
Hy was erg oor sy broodbome, visvang by Henties en om te jag.
Frans se vertommende kennis oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe het jou altyd opgeval. Selfs die botaniese name van plante het hy geken.
Daar was min dinge wat hy nie gedoen het nie.

Selfs nadat longkanker in Augustus 2023 by hom gediagnoseer is, het hy sy lewenslus behou. Hy het goed gereageer op die behandeling en was vir lank in remissie totdat hy in Desember siek geword het, en vroeg Januarie in die Life Flora-hospitaal in Roodepoort opgeneem is.
Frans is in die hospitaal oorlede met die kanker wat uiteindelik sy tol ge-eis het.
Vir sy vrou Sylvia met wie hy 30 jaar getroud was, sy kinders en kleinkinders, en die vele vriende waarmee hy hom omring het waar hy ookal gegaan het, sal Frans altyd leef in die mooi herinneringe van ‘n man wat tot op die einde sy lewe voluit geleef het.



