Kwotasie of geskatte koste vir motor herstel: Dit is belangrik dat jy die verskil ken
Dit is veral belangrik dat kwotasies deur beide partye geteken word voordat herstelwerk gedoen word, en dat bykomende kostes eers met die kliënt bespreek moet word.
Terwyl huishoudelike begrotings in 2026 steeds onder druk bly, hou baie motoriste hul voertuie langer en stel instandhouding uit waar moontlik. Om noodsaaklike herstelwerk te vertraag, kan later tot groter en duurder probleme lei. Om die verskil tussen ’n kwotasie en ’n geskatte koste te verstaan, is ‘n eenvoudige manier waarop motoreienaars hulself teen onverwagte kostes kan beskerm en onnodige geskille met hul werkswinkel kan vermy.
“Voertuigherstelwerk kan duur wees, daarom moet motoriste altyd duidelik wees oor waarvoor hulle instem voordat enige werk begin,” sê Dewald Ranft, voorsitter van die Motor Industry Workshop Association (MIWA). “Ongelukkig is verwarring tussen ’n kwotasie en ’n skatting steeds een van die algemeenste oorsake van misverstande tussen motoriste en motorwerkswinkels”
Ranft verduidelik dat ’n kwotasie ’n vaste prys is vir spesifieke, duidelik omskrewe werk. “Sodra ’n kwotasie uitgereik en aanvaar is, is die werkswinkel wetlik aan daardie bedrag gebonde. Enige bykomende werk wat met die herstel verband hou, word geag ingesluit te wees, tensy die kliënt formeel ekstra herstelwerk goedgekeur het.”
’n Skatting, aan die ander kant, is ’n ingeligte aanduiding van moontlike kostes waar onbekende of verborge faktore bestaan. “Dit is algemeen in situasies waar interne komponente of onderliggende foute nie vooraf volledig beoordeel kan word nie. ’n Skatting moet altyd opgevolg word met ’n finale kwotasie sodra die volle omvang van die werk bekend is,” sê Ranft.
In baie gevalle is dit eenvoudig nie moontlik vir ’n tegnikus om alle foute tydens ’n aanvanklike inspeksie te identifiseer nie. “Byvoorbeeld, wanneer ’n voertuig wat nie wil aanskakel nie, na ’n werkswinkel gesleep word, is die eerste stap om te diagnoseer waarom dit nie aanskakel nie. Eers wanneer die voertuig loop, kan bykomende foute geïdentifiseer word. Hierdie probleme kan nie redelikerwys by die aanvanklike kwotasie ingesluit word nie en moet as bykomende werk behandel word, onderhewig aan die kliënt se goedkeuring.”
Ranft voeg by dat diagnostiese werk self dikwels gespesialiseerde toerusting en vaardige arbeid vereis. “Hierdie ‘kwotasie-tot-kwotasie’-situasies ontstaan wanneer verdere diagnose afhang van werk wat eers goedgekeur moet word. Selfs al besluit ’n kliënt uiteindelik om nie met herstelwerk voort te gaan nie, bly hulle aanspreeklik vir geldige diagnostiese kostes.”
Duidelike kommunikasie, sê hy, is die sleutel tot die voorkoming van geskille. “Werkswinkels moet tyd neem om die omvang van die kwotasie te verduidelik, moontlike ‘wat as’-scenario’s uit te lig, en seker te maak die kliënt verstaan volledig wat ingesluit is en wat nie.”
MIWA beveel sterk aan dat alle kwotasies deur beide partye onderteken word voordat enige herstelwerk begin. “Indien bykomende herstelwerk nodig word, moet die werkswinkel die kliënt kontak, die bespreking aanteken en goedkeuring verkry – hetsy skriftelik of telefonies – met behoorlike interne verifiëring.”
“Vir motoriste is die raad eenvoudig: vra vrae, dring aan op duidelikheid, en moet nooit onder druk voel om herstelwerk goed te keur wat jy nie verstaan nie,” sluit Ranft af. “Indien jy twyfel, kry ’n tweede mening by ’n betroubare, MIWA-geakkrediteerde werkswinkel wat hoë etiese en professionele standaarde handhaaf.”



