Bek-en-klouseer: Nasionale ramp, maar wat nou
Vrystaat Landbou het vandeesweek die versekering gegee dat hy sal aanhou druk uitoefen om te verseker dat entstowwe so gou moontlik by diere uitkom – en teen ’n koste wat boere kan bekostig,
Bek-en-klouseer (BKS) is die afgelope week deur president Cyril Ramaphosa in sy staatsrede as nasionale ramp verklaar. Hoewel die stap as kritieke keerpunt vir Suid-Afrika se veesektor beskou word, is daar ook vrae oor wat die pad vorentoe inhou, en tot watter mate met die private sektor saamgewerk sal word.
“Wat die boer wil weet, is hoe die entstof sy plaas gaan bereik en wat hy self moet doen,” sê Vrystaat Landbou se vise-president, Friedl von Maltitz. Von Maltitz sê duidelikheid en spoed is nou krities.
Hy sê die verklaring dwing staatsliggame om saam te werk, bestaande strukture te versterk en toepaslike noodmaatreëls te implementeer waarme die verantwoordelikheid nou vierkantig op die skouers rus van alle regeringsvlakke, gemeenskappe en boere om alles moontlik te doen om verdere verspreiding van die siekte te voorkom. “Dit sluit volgens ons interpretasie, samewerking met georganiseerde landbou en plaaslike boerderyverenigings in.”
Dringende behoefte aan rolverdeling en koördinering
Vrystaat Landbou sê dat duidelike toewysing van verantwoordelikhede in die verkryging, verspreiding en toediening van entstowwe is nodig, en is die organisasie teleurgesteld dat die Departement van Landbou ‘n belangrike vergadering van die gesamentlike bedryfskomitee op kort kennisgewing gekanselleer het, waar juis duidelikheid en rigting oor entstowwe verwag is.
Die organisasie het weer beklemtoon dat sonder gekoördineerde optrede en deursigtige kommunikasie sal onsekerheid produsentevertroue ondermyn.
Finansiële verligting nou nodig
‘n Beroep is op banke en versekeringsmaatskappye gedoen om die omvang van die krisis te erken en gepaste verligtingsmaatreëls aan boere te bied.
“Boere kan nie die dubbele las van siekte-uitbrekings en finansiële ineenstorting dra nie. Geen boer behoort sy plaas te verloor of sy familie met onbetaalde verpligtinge te laat weens omstandighede buite sy beheer nie.,” het Von Maltitz gesê.
Vrystaat Landbou het verder die versekering gegee dat hy sal aanhou druk uitoefen om te verseker dat entstowwe so gou moontlik by diere uitkom – en teen ’n koste wat boere kan bekostig,
Die kritieke rol van plaaslike boerderyverenigings
Daar is gewys op die belangrike rol van plaaslike boerderyverenigings wat moet help met kommunikasie tussen boere, veeartse en owerhede, koördinering en kommunikasie van plaaslike biosekuriteitsmaatreëls, bewegingsbeheer en die instel van biosekuriteitskontrolepunte, maar ook om seker te maak dat misleidende en vals inligting oor die siekte nie versprei word nie.
Beroep op boere
Vrystaat Landbou het opnuut boere gevra vir
• Streng beheer oor die beweging van vee
• Versterking van biosekuriteitsmaatreëls op plase
• Dat enige vermoedelike gevalle aan veeartse gerapporteer sal word.
Nampo
Graan SA en die Nampo-bestuur het intussen aangekondig dat geen gesplete hoefdiere by vanjaar se NAMPO Oesdag sal wees wat van 12 tot 15 Mei by Nampo Park buite Bothaville gehou word. Dit sluit beeste, skape, bokke en varke in.
Dié besluit volg op groeiende kommer oor die Bek-en-klouseerkrisis in die land.
Bek-en-klou brandpunte
Die Vrystaat het teen verlede week reeds 291 bevestigde gevalle van BKS gehad volgens die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling.
Van die provinsie se grootste brandpunte is Viljoenskroon/Vredefort (52), Parys/Vredefort (45), Deneysville/Sasolburg (43) en Cornelia/Frankfort (27).
Daar is ook gevalle in Marquard/Senekal (14), Hlohlolwane (Clocolan) 14, Kroonstad (13), Qwaqwa/Harrismith (12), Vrede/Memel (12), Edenville (11), Reitz/Lindley (9), Warden (8), Heilbron (7), Odendaalsrus/Welkom/Ventersburg (7), Bethlehem (6), Bothaville (4), Rouxville (2) en Edenburg (2).



