Dié is nie ‘n bargain nie
Die afgelope maand alleen is 11 aanlyn bedrogklagtes by Parys SAPD gerapporteer.
Is jy ook een wat vrek oor ‘n ‘bargain’. Of dit nou ‘n leer sitkamerstel, ‘n stel gholfstokke of ‘n paar valstande is – mense is ewig op soek na ‘n winskoop. Met Facebook en ander sosiale media platforms, is aanlyn kopies ‘n groot versoeking.
Jy kan letterlik op jou selfoon blaai van die een ‘bargain’ na die ander en vinnig en maklik vanuit die gerief van jou huis ‘n paar winskopies kry. Als aanlyn.
Maar oppas! Naas die diefstal van koper, is aanlyn bedrog en skelmstreke van die grootste misdaad waarmee die polisie in Parys gereeld te doen kry. Net die afgelope maand alleen is elf sake van aanlyn bedrog by Parys SAPD aangemeld.
Weet maar – as iets te goed is om waar te wees, dan is dit. Dalk het jy al sonder probleme ‘n hele paar goed aanlyn bestel of gekoop, maar onthou net daar is altyd ‘n eerste keer vir alles.
* Moenie geld oorbetaal in iemand se rekening wie jy nie ken nie, of nog nooit vantevore mee besigheid gedoen het, sonder om verwysings eers vooraf behoorlik na te gaan nie.
* Sien is glo. Gaan kyk na ‘n item wat privaat verkoop word voordat jy sommer net aanlyn koop.As ‘n item deur ‘n besigheid geadverteer word, skakel die besigheid en bevestig of hul wel die item op sosiale media platforms te koop aangebied het en die inligting op die advertensie korrek is.
* Moenie jou unieke pinkode (OTP) vir iemand gee wat jou sou skakel nie, nie eens as hulle hul sou voordoen om van ‘n bank te wees nie.
* Aanlyn bedrog gebeur daagliks. As jy eers die geld oorbetaal het en gevang is vir ‘n slenter, kan jy maar vergeet om dit terug te kry want jy het sonder dwang die transaksie gedoen op eie risiko.
* Op pas ook maar vir telefoonoperateurs wat jou kwansuis van ‘n bank af sou skakel om te waarsku oor verdagte transaksies op jou bankrekening. Die baie behulpsame operateurs help jou in ‘n kits om hul toepassings op jou foon af te laai, of vra vir die unieke pinkode (OTP) om hulle te ‘help’ om die ‘verdagte transaksies’ te stop, en voor jy weet het hul met jou toestemming toegang tot jou bankrekening en is jy jou swaarverdiende spaargeld kwyt.
Sit so gou jy kan die foon neer as jy so ‘n oproep sou kry en gaan self na die bank. Moet nooit enige persoonlike inligting of kodes wat na jou selfoon gestuur word vir iemand oor die foon gee nie.
Mense word aanhoudend gewaarsku en was daar selfs die afgelope maand twee bewusmakingveldtogte deur die polisie by tehuise vir bejaardes in Parys, omdat bejaardes dikwels sagte teikens is vir internetswendelaars.



