Skote geskiet, voertuie aan die brand gesteek tydens transito-rooftog
Al 15 verdagtes is steeds op vrye voet is vanmiddag deur die polisie bevestig.
Die polisie soek steeds na die sowat 15 verdagtes wat gistermiddag betrokke was by ‘n transito-rooftog in Rustenburg waartydens ‘n onbekende bedrag geld buitgemaak is. Die verdagtes het ook die transito-voertuig asook ‘n Toyota Fortuner wat in die rooftog gebruik is, aan die brand gesteek.
Volgens kaptein Adéle Myburgh was sekuriteitspersoneel Maandagmiddag om 16:40 in die transitovoertuig in Kremetartstraat onderweg toe ’n Toyota Fortuner wat in die teenoorgestelde rigting gery het, teen die deur aan die bestuurderskant van die transitovoertuig gebots het. Die voertuig is tot stilstand gedwing en is daarna deur ’n Toyota Hilux (Legend) dubbelkajuitbakkie geblokkeer.
Die gewapende verdagtes het die sekuriteitsbeamptes oorrompel en hulle beveel om die deure oop te sluit. Hulle is toe uit die voertuig geboender en ’n entjie van die transitovoertuig af gesleep waarna hulle gedwing is om met hul gesigte na onder op die grond te lê.
Die verdagtes het een van die sekuriteitswagte se vuurwapen afgevat en het toe met die kontant wat uit die voertuig gevat is, gevlug nadat hulle beide die transitovoertuig en die Fortuner aan die brand gesteek het.
Verskeie skote is tydens die voorval afgevuur, maar niemand is beseer nie, het Myburgh gesê.
Die waarnemende provinsiale kommissaris van Noordwes, generaal-majoor (dr.) Ryno Naidoo, het lede van die publiek versoek om ernstige misdade onmiddellik aan te meld en gewaarsku dat verdagtes wat by sulke misdade betrokke is, gevaarlik is en nie gekonfronteer moet word nie.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help met hul ondersoek is gevra om hul naaste polisiestasie te kontak of Crime Stop by 08600 10111 of inligting anoniem via die MySAPS-toepassing op hul slimfoon in te dien.



