Dié hande ken skoene
Met die geld wat hy maak uit die regmaak van skoene, sakke en gordels, sit hy brood op die tafel vir hom en sy kinders.
Daar is nie ‘n skoen wat sy hande nie kan regmaak nie. Of dit ‘n sool of ‘n stiksel is wat lostrek – as die 49-jarige Michael Motlabane aan ‘n skoen gewerk het, is hy nie net heel nie, hy hou.
Sy glimlag so breed soos die strate van Parys, sien jy van ver af waar hy op sy krat regoor die taxi-staanplek op die h/v Kort- en Father Balinkstraat sit.
Dit is ook nie net skoene wat hy herstel nie. Hy is ewe bedrewe as dit kom by sakke, beursies en gordels regmaak, vertel hy trots.
Michael is hier gebore en het skoolgegaan by die Selogilwe en Boitlamo skole.
Hy het by sy pa die vakmanskap geleer, vertel hy. Sy pa het sy lewe lank skoene reggemaak, maar wanneer drank sy pa se hande laat sukkel het, het ‘n jong Michael die skoene gevat en begin regmaak.
Eers het hy net ‘n klein naaimasjien gehad, maar op ‘n dag het ‘n kliënt wie se skoene hy herstel het vir hom ‘n groter naaimasjien gebring.

Elke skoen wat hy regmaak is die brood en botter waarmee hy vir sy kinders sorg.
Wanneer jy hier wegstap, is meer as net jou skoene heel, want Michael se glimlag en mooi hart sal jy onthou lank nadat jou skoensole deurgeloop is.



