Kanker het my geleer om anders na die lewe te kyk
"Die liefde van mense en die genade van die Here dra my elke dag."
Soggens wanneer jy wakker word is die realiteit die seerste. Jy leer om die lewe te waardeer. Om dinge raak te sien wat jy voorheen misgekyk het.
Vir Amanda Neethling (39), ‘n graad drie onderwyseres van Primêre Skool Parys, het een oproep haar lewe handomkeer verander, maar te midde van die onsekerheid vir die onbekende na die diagnose van servikale kanker, dra die liefde van mense en die genade van die Here haar dag na dag.
Sy gesels openhartig oor die pad wat sy die afgelope maande geloop het, en oor wat voorlê vir haar nadat sy in Januarie, minder as 14 maande na haar vorige behandelingspad, moes hoor dat die kanker gevorder het na fase 3.
Na die geboorte van haar en haar man, Paul, se drie seuns, het Amanda getrou gegaan vir haar jaarlikse ginekologiese ondersoeke. In 2022 is abnormale selle in haar serviks gesien, maar was daar nog nie rede tot kommer nie.
In Augustus 2024 is ‘n gewas so groot soos ‘n rosyntjie in haar serviks gekry tydens die ginekologiese ondersoek, en is dit in die spreekkamer verwyder en weggestuur vir toetse. “Steeds was ek nie bekommerd nie,” onthou Amanda.
Maar die dag toe sy die oproep gekry het om te bevestig dat dit kanker is, sal sy nooit vergeet nie. “Ek het langs Paul onder die lapa gesit. Dit was ‘n dag voor Vrouedag.” Amanda is verwys na ‘n ginekologiese onkoloog in Pretoria.
In September 2024 is ‘n radikale histerektomie gedoen en het ‘n behandelingspad van ses weke se chemoterapie en bestraling tegelykertyd gevolg. ‘n Uitmergelende ses chemo-sessies en 32 bestralings.
Hoewel sy nie newe-effekte van die behandeling gehad het nie, was daar die geweldige moegheid as gevolg van die behandeling.
In Maart 2025 is sy vir haar opvolg PET-skandering, en is daar skaars drie maande na die behandeling ‘n donkerkol in die kliere aan die regterkant van haar pelvis opgetel. In Mei verlede jaar is sy geopereer om die kliere te verwyder en is geen kanker gekry nie.
Na die pelvis-operasie het ‘n dowwe pyn egter in haar regterbeen begin. Dokters was nie bekommerd nie omdat dit nie vreemd is om senuwee-sensasie na so ‘n operasie te hê nie.
In Augustus was sy weer vir ‘n ondersoek waar steeds niks opgetel is nie, maar teen September was die pyn so intens dat sy nie kon slaap nie. Sy het haar huisdokter gaan sien, fisioterapie gekry en begin oefen by ‘n biokinetikus om haar spiere te versterk in die hoop om verligting vir die pyn te kry.
Vir ‘n paar maande het dit gehelp, maar in November 2025 is sy na ‘n ortopeet toe die pyn eens so erg was. ‘n MRI-skandering het ‘n donkerkol aan die regterkant van die pelvis uitgewys en is sy terugverwys na die onkoloog. “As ek nou terugdink is ek spyt dat ek nie direk onkoloog toe gegaan het toe die pyn begin het nie,” vertel Amanda.
Deur haar maande lange stryd was daar telkens die vrae. Die onsekerheid. Die wag op antwoorde en toetsuitslae. Maar jy leer geduld. Jy leer om te wag. Jy leer vertrou. Jou angstigheid word anders. Jy kan vra waarom ek, maar dan weer waarom nie ek nie?
Teen Desember was morfien nodig om die pyn onder beheer te bring. Die eerste twee weke het die morfien haar siek gemaak. Eers later het verligting gekom.
Dokterspraktyke was gesluit oor Desember, en eers in Januarie het die antwoorde gekom na nog ‘n PET-skandering. Fase 3 kanker. Die gewas so groot soos ‘n tennisbal en nog ‘n kleiner een agter hom was die rede vir die ongemak en pyn in haar heup, been en tot in haar voet.
Chirurgie is nie meer ‘n opsie nie. Vrydag begin ‘n behandelingspad van ‘n kombinasie van drie chemoterapie-behandelings wat sy gesamentlik sal kry met tussenpouses van drie weke. Na voltooiing van die ses behandelings oor ‘n tydperk van ongeveer vier maande, sal ses immunoterapie-behandelings elke drie weke volg.
Haar mediese fonds betaal slegs die koste van twee van die drie chemoterapie behandelings wat in kombinasie gegee word, en betaal ook nie die immunoterapie-behandeling nie. Danksy mense se omgeeharte help ‘n Back-a-Buddy-fondsinsameling om hierdie uitstaande kostes van die behandeling te betaal.
Vir die immunoterapie alleen is R88 000 per behandeling nodig, terwyl die ses chemoterapie behandelings wat nie deur die mediese fonds betaal word nie, elk ook sowat R28 000 beloop.
Ek het ongelooflike dankbaarheid in my hart, getuig Amanda. “Dankbaarheid teenoor mense, teenoor dokters, teenoor kollegas by my en Paul se werk, en die Here, want op die pad wat ek tot nou moes loop was Hy heeltyd daar.
My grootste wens is om net gesond te wees en dat ek my seuns sal sien grootword. Ek is nie bang om dood te gaan nie, want ek weet waarheen ek gaan. Ek is bang vir die seer vir hulle wat ek agterlaat.”
“Elkeen cope op sy eie manier. Ek wou nooit hardop sê ek het kanker nie, maar ek glo mense moet weet en dat dit belangrik is om te weet.
Soveel keer hoor jy vroue sê dat hul die laaste keer met hul kinders se geboorte vir ‘n ginekologiese ondersoek gegaan het. Tog is dit een van die dinge wat jy nie moet nalaat nie,” sê Amanda.

Sy en Paul was van die begin eerlik met hul kinders oor die diagnose en behandeling, vertel sy. “Ook kinders moet weet dat slegte dinge ook met goeie mense gebeur. Ons kinders het soveel geleer. Hulle het geleer om anders en met begrip na ander te kyk.”
Daar was tye wanneer ek vir Paul gesê het dat ek nie weet of ek sterk genoeg sal wees nie, maar deur alles is Paul haar rots. Die een wat sterk staan wanneer sy nie kan nie. “Dit is hy, my kinders, my familie, die liefdevolle ondersteuning van ‘n gemeenskap en net geloof wat ons staande hou.”
Die skakel vir die Back-a-Buddy fondsinsameling vir Amanda se behandeling is https://www.backabuddy.co.za/campaign/amanda-neethling



