Local newsNews

Minder kontakmisdade in die VS, maar gevalle van poging tot moord styg

Daar is weer klem daarop gelê dat veiligheid 'n gedeelde verantwoordelikheid tussen die polisie en gemeenskappe is.

Minder kontakmisdade is regoor die Vrystaat teen die laaste kwartaal van 2025 gerapporteer, en het verskerpte polisiesigbaarheid en strategiese ontplooiing oor die feestyd ook bygedra  tot ‘n daling  in die aantal gevalle van moord, seksuele misdrywe en aanranding.

Die waarnemende provinsiale kommissaris, majoor-generaal Apaphia Modise en die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer, mnr. Jabu Mbalula, het vandag tydens ’n mediakonferensie die provinsie se misdaadstatistiek vir die tydperk Oktober tot Desember 2025 bekendgemaak.

Volgens die syfers het
• Algehele kontakmisdade afgeneem met 8,4% 
• Moord het met 13,3% gedaal
• Seksuele misdrywe daal met 9,4% 
• Aanranding (GBH) het met 8,1% afgeneem
• Aanranding (gewoon) daal met 11,6%

Die aantal gevalle van poging tot moord het egter met 4,8% toegeneem.  Modise het met verwysing hierna gesê dat dit gefokusde aandag en geteikende intervensies vereis om dié tendens om te keer.

Mbalula het die provinsie se ferm standpunt teen geslagsgebaseerde geweld opnuut bevestig.

Die publiek is die versekering gegee dat die Wet op Gesinsgeweld streng toegepas sal word. Dit sluit in dat alle slagoffervriendelike kamers by polisiestasies ten volle funksioneel sal wees, en ’n waardige omgewing vir slagoffers van hierdie misdrywe moet bied.

Landelike veiligheid bly ook ’n hoë prioriteit, is gesê. Na aanleiding van ’n suksesvolle tweedaagse geïntegreerde operasie in Thaba Nchu, waaraan Binnelandse Sake, Departement Arbeid en tradisionele leierskap deelgeneem het, het die provinsie sy reaksie verskerp ten opsigte van
• Landelike Moorde
• Veediefstal
• Ongedokumenteerde persone en kriminele netwerke

Die waarnemende provinsiale kommissaris het hierdie suksesse toegeskryf aan die onvermoeide toewyding van SAPD-lede, spesifiek gespesialiseerde speurders, en operasionele en administratiewe lede van die Suid-Afrikaanse Polisie Diens.

Die SAPD het verder ook  swaar vonnisse en lewenslange gevangenisstraf wat tussen Oktober en Desember deur die howe opgelê is, verwelkom. Hierdie suksesvolle vervolgings weerspieël die SAPD se onwrikbare verbintenis om gevaarlike misdadigers uit die samelewing te verwyder en geregtigheid vir slagoffers van plaasaanvalle en kinderuitbuiting te verseker, het Modise gesê.

“Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly in die stryd teen misdaad. Veiligheid is ’n gedeelde verantwoordelikheid, en deur ons geïntegreerde vennootskappe sal ons voortgaan om die Vrystaat ’n veiliger plek vir almal te maak,” het Modise gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button