Amerika wag vir Wynand
Wynand het 'n ongelooflike agtste plek op die wêreldpuntelys, en 'n gesogte vierde plek in Suid-Afrika behaal by die Static Monsters-kompetisie.
Wynand Pretorius, wat Fierce Fitness en die Parys Powerlifting Club verteenwoordig het by die Static Monsters-kompetisie, het geskitter met ‘n kragtige vertoning in die mededingende kategorie vir Mans onder 90kg waar hy gewys het dat hy onder die elite in die kragwêreld is.

Wynand het tydens die kompetisie wat op 21 Februarie in Benoni gehou is, ‘n ongelooflike agtste plek op die wêreldpuntelys, en ‘n gesogte vierde plek in Suid-Afrika behaal.

Die Static Monsters-kompetisie is ‘n wêreldwye “sterkman”-formaat kompetisie en fokus op twee gewigopteldissiplines – die Log Press en Axle Deadlift.
Met die Log Press het Wynand 105kg gelig, en met die 18″ Axle Deadlift ‘n verstommende 315kg – ‘n gekombineerde totaal van 420kg.
Om byna ‘n halwe ton te beweeg, verg baie meer as net krag. Dit vereis tegniese vaardigheid en deursettingsvermoë.


Wynand is na die kompetisie aangewys as een van slegs 10 atlete wat genooi is om in September vanjaar in Arizona, VSA, aan die wêreldgewigoptelkampioenskappe te gaan deelneem.



