Geen lig in Ngwathe se Eskom-skuldtonnel
Ten spyte van herhaalde pogings om in te gryp by Ngwathe se skuld aan die kragreus, het dit oor jare sedert 2009 opgebou tot 'n verstommende R2 927 900 635.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is onder minstens vier Vrystaatse munisipaliteite vir wie Eskom die afgelope week ‘n openbare kennisgewing geplaas het vir sy voorneme om teen 8Mei grootmaat elektrisiteitsvoorsieing aan die munisipaliteit te onderbreek, of te verminder, weens volgehoue wanbetaling.
Ngwathe se skuld aan Eskom beloop byna R3 miljard. Ander Vrystaatse munisipaliteite vir wie soorgelyke kennisgewings uitgereik is, sluit in Masilonyana (Theunissen, Winburg, Brandfort, Verkeerdevlei, Soutpan), die Nala Munisipaliteit (Bothaville, Kgotsong, Wesselsbron, Monyakeng), en Nketoana (Lindley, Reitz, Petrus Steyn).
Ten spyte van herhaalde pogings om in te gryp by Ngwathe se skuld aan die kragreus, het dit oor jare sedert 2009 opgebou tot ‘n verstommende R2 927 900 635.
In Februarie 2025 is ‘n soortgelyke kennisgewing vir Ngwathe deur Eskom geplaas, maar het die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, toe gekom met ‘n voorstel vir ondertekening van verspreidingsagentskapooreenkomste (DAA) tussen Eskom en Vrystaatse munisipaliteite wat groot bedrae aan Eskom skuld. Die poging was om volhoubare oplossings vir munisipaliteite te vind wat elektrisiteitsverwante finansiële probleme ondervind.
Die voorstel het gevolg na ‘n vroeëre reddingsboei van die Nasionale Tesourie om sukkelende munisipaliteite te help toe daar in Maart 2023 ‘n skuldverligtingsprogram bekendgestel is. Daarvolgens sou Eskom kwalifiserende munispaliteite wie se aansoek tot die program aanvaar is, se skuld oor drie jaar afskryf, onderhewig aan voorwaardes, onder andere dat die munisipaliteit voortaan sy lopende rekening vir grootmaatvoorsiening binne 30 dae ten volle moes betaal.
Ngwathe is in Desember 2023 tot die skuldverligtingsprogram toegelaat, maar is versuim om aan die voorwaardes van die program te voldoen wat sou verhoed het dat skuld verder groei.
Pleks hiervan het Ngwathe se agterstallige skuld met R1 215 686 657.41 toegeneem sedert die datum waarop die munisipaliteit tot die program toegelaat is, sê Eskom. Die gevolg was dat die Nasionale Tesourie op 22 Februarie die munisipaliteit kennis gegee het dat sy deelname aan die skuldverligtingsprogram teen 1 April beëindig sal word, tensy die munisipale raad teen 27 Maart besluit om ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms met Eskom aan te gaan.
Die ooreenkoms is een van die IRFA-georiënteerde ingrypings wat Eskom toelaat om munisipaliteite by te staan met dienste soos tegniese vaardigheidsontwikkeling, instandhouding en bedryf van die munisipale netwerk, bestuur van energieverliese, prys- en tariefstrukture, die faktureringsfunksie, asook inkomste- en invorderingsbestuur.
Met die uitreiking van die brief deur die Nasionale Tesourie word die dispuutbeslegtingsproses ingevolge die IRFA as afgehandel beskou, en het Eskom die reg om sy statutêre magte uit te oefen om grootmaat-elektrisiteitsvoorsiening aan die munisipaliteit te onderbreek of te verminder, mits die Ngwathe raad voor 27 Maart besluit om ‘n DAA met Eskom aan te gaan, of Eskom die munisipaliteit se elektrisiteitsvoorsiening omskakel na voorafbetaalde elektrisiteit waar Eskom net krag voorsien gelykstaande aan wat die munisipaliteit kan bekostig, of ‘n ooreenkoms tussen Ngwathe en Eskom bereik word waarvolgens die munisipale verbruikers Eskom direk betaal vir krag wat hulle teen die Eskom-tarief verbruik.
Ngwathe het onlangs grootskaalse optrede teen onwettige kragverbindings en wanbetalers geloods. Gazette het na die munisipaliteit uitgereik oor wat die pad vorentoe is, en sal kommentaar bygewerk word sodra dit ontvang word.
Publieke kommentaar op Eskom se kennisgewing kan per epos tot 13 Apil gestuur word na FSNgwathe@eskom.co.za of stuur na 120 Henry Street, Westdene, Bloemfontein, 9300.
Eskom sal op 24 April sy finale besluit oor Ngwathe se lot bekend maak.



