Skelms en hul slenters – kyk uit vir hierdie juweliersdiewe
Dit wil blyk asof daar juweeldiewe is in Vereeniging wat bejaardes se huise teiken.
VEREENIGING. – Vaalweekblad het die afgelope week berig van minstens twee ouer persone wie se juwele die afgelope paar weke gesteel is.
In beide gevalle het min of meer dieselfde scenario afgespeel. Die leser wat geskakel het, het gesê sy het die middag ‘n vriendin in die hospitaal gaan besoek en was dus vir ‘n wyle nie tuis nie.
Die volgende oggend het sy ontdek dat haar juwelierskissie leeg is. Juweliersware met groot sentimentele waarde wat sy oor agt dekades versamel het, was weg.
Haar huishulp het met die ontdekking van die diefstal vertel van ‘n wit motor met twee insittendes wat die middag net nadat sy gery het, voor die hek gestop het.
‘n Man en vrou het uigeklim. Sy het uitgegaan om te hoor wat hul wil hê. Die vrou het haar vertel dat die huiseienaar gesê het sy kon moontlik vir hul ‘n huishulp reël.
Die volgende oomblik het die vrou gesê sy het ‘n groot nood en mag sy asseblief die toilet gebruik. Die huishulp het die hek oopgesluit en die vrou is die huis in en na die badkamer toe.
Vandaar het die vrou die huishulp geroep en vir haar gevra of sy asseblief vir haar man by die hek sal gaan vra om vir haar sanitêre ware uit haar handsak te gaan haal.
Die huishulp het dit toe gedoen en die man het lank gesoek na die handsak alvorens hy dit in die kattebak opgespoor het.
Teen daardie tyd was die vrou weer by die hek en sy het gesê dis okay, dit was toe nie so erg nie. Sy het die huishulp bedank omdat sy die toilet kon gebruik en die paartjie het weer gery.
Intussen het ‘n vriendin van die leser wat geskakel het, presies dieselfde oorgekom. Die dame is al 90 en het dieselfde stel met die man en vrou in die wit motor afgetrap.
Die sake is by die polisie aangemeld wat weereens die publiek gewaarsku het om nie vreemde mense op hul eiendom toe te laat nie.
Die dame van 90 het na die tyd gesê by nabetraging vermoed sy dat die vrou wat ingekom het om die badkamer te gebruik, dalk ‘n man in vroueklere was.
Inwoners word aangeraai om enige verdagtes of verdagte voertuie by hul buurtwag, gemeenskapspolisiëringsforum of die polisie aan te meld.
Lees die oorspronklike berig hier:
https://vaalweekblad.com/143109/skelms-en-hul-slenters-kyk-uit-vir-hierdie-juweliersdiewe/