News

Beurtkrag lank reeds ‘n uitdaging

Daar is verwag dat beurtkrag vanjaar op die meeste dae toegepas sal word, en dit het reeds 'n nare werklikheid geword.

Suid-Afrika het in 2022 onder meer as 3 700 uur se beurtkrag deurgeloop en 2023 het op ‘n donker noot begin met fase 6-beurtkrag en ‘n verhoging wat vir kragtariewe goedgekeur is.

Die meer as 3 700 uur se beurtkrag in 2022 is gelykstaande aan 154 dae se aaneenlopende beurtkrag. Dit was ook die eerste keer sedert 2019 wat fase 6-beurtkrag weer ingestel is.

Intussen het Eskom gesê fase 6-beurtkrag is hier om te bly en ‘n uitdagende jaar lê voor wat elektrisiteitsvoorsiening betref. Fase 6 is in Desember gereeld toegepas. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se goedkeuring van ‘n kragtariefverhoging van 18,65% vir die boekjaar 2023-’24 is met woede begroet.

Suid-Afrika het in 2007 vir die eerste keer ‘n voorsmakie van beurtkrag gehad en toe weer in Januarie 2008.
Ses jaar later het beurtkrag weer kop uitgesteek en in November 2014 is fase 3-beurtkrag toegepas.
Beurtkrag is in 2015 gereeld toegepas, terwyl daar geen beurtkrag in 2016 en 2017 was nie.

Teen Junie 2018 was beurtkrag terug en in 2019 is fase 4-beurtkrag vir die eerste keer toegepas. Fase 6-beurtkrag is vir die eerste keer in Desember 2019 ingestel. Beurtkrag het in 2020 en 2021 voortgeduur.

In Junie verlede jaar is fase 6-beurtkrag vir die tweede keer ooit ingestel en dit het nou al ‘n algemene verskynsel geword.

In 2015 was daar meer as 830 uur (35 dae) se beurtkrag, terwyl daar 141 uur (ses dae) se beurtkrag in 2018 was.

In 2020 was daar 844 uur (35 dae) se beurtkrag en dit het in 2021 skerp gestyg tot 1 153 uur (48 dae). In 2022 is ongekende vlakke van beurtkrag beleef – drie keer meer as die vorige jaar.

Die vooruitsig vir 2023 lyk allesbehalwe rooskleurig met meer as 467 uur (19 dae) se beurtkrag wat reeds teen 20 Januarie gegeld het.

Daar is verwag dat beurtkrag vanjaar op die meeste dae toegepas sal word, en dit het reeds ‘n nare werklikheid geword.

Dit is hier om te bly en vir ons as verbruikers is dit baie sleg. Waar alles gaan eindig, kan in die stadium nie gesê word nie, maar dinge lyk nie goed nie. (Inligting: Solidariteit Helpende Hand.)

Related Articles

Back to top button