News
Rioolbesoedeling in vleiland al weke terug gerapporteer
Die vraag is wat gedoen gaan word om die gebied wat besoedel is te rehabiliteer.
Save Ngwathe het die naweek weer gewys op die rioolbesoedeling van ‘n vleiland net bokant die punt waar water by die Parys watersuiweringsaanleg onttrek word wat al by herhaling deur die drukgroep gerapporteer is. Die besoedeling is weke gelede ook deur NgwatheRA se rdl. Selma Kok en DA-raadslid Saal de Jager by herhaling aan die Ngwathe munisipaliteit se rioolafdeling gerapporteer.
Die riool loop uit verstopte mangate in ‘n veld agter die Oudewerfpark-woonbuurt vanwaar dit onder deur die R59 loop in ‘n vleiland in.
Die rede vir die besoedeling is ‘n elektriese fout by die Oudewerfpark-rioolpompstasie as gevolg van skakelaars en drade wat gebrand het weens oorlading, sê DA-raadslid Saal de Jager. Maar Ngwathe blameer nasionale en munisipale beurtkrag vir die besoedeling wat ‘n ondraaglike stank veroorsaak.
Rdl. Kok het bevestig dat die antwoord wat sy gekry het toe die besoedeling gerapporteer is, was dat beurtkrag veroorsaak dat die Mbeki en Thambo rioolpompstasies dikwels oorloop. Maar beurtkrag alleen kan nie dié oorloop veroorsaak nie, en dui op swak instandhouding van die rioolnetwerk, sê raadslede.
Volgens Karien Viljoen van Save Ngwathe rapporteer hul daagliks die besoedeling en het die munisipaliteit Vrydag aangedui dat hulle glo daaraan werk om die probleem op te los, maar word gevra waarom so lank wag om aandag aan die probleem te gee. Die vraag is ook wat gedoen gaan word om die gebied wat besoedel is te rehabiliteer.
Met die vroeëre rioolbesoedeling by die Sandgat wat op 25 Mei deur rdl. Kok aan Departement Waterwese gerapporteer is, asook deur AfriForum, die DA en Save Ngwathe, het Departement Waterwese gesê dat dié besoedeling as gevolg van beurtkrag is, en die noodkragopwekker by die rivierpompstasie wat nie gewerk het nie. Die noodkragopwekker is intussen herstel is gesê. Raadslede sê rioolbesoedeling behoort daarom nie te gebeur as die rioolnetwerk instand gehou word soos dit hoort nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



