Local newsNews

Quad-ongeluk: ‘Net genade het ons kind deurgedra’

Mense het eenvoudig hul harte oopgemaak vir die jong seun en sy familie.

Die dankbaarheid is groot in ‘n ouerpaar van Viljoenskroon se harte vir ‘n gemeenskap se gebede en omgee nadat ‘n vierwielmotorfietsongeluk op 26 November, so byna hul oudste kind se lewe ge-eis het. Die 14-jarige Dirk Du Pisani, ‘n graad agt leerder van die Salomon Senekal Gekombineerde Skool in Viljoenskroon, is na ‘n week in die hospitaal Saterdag ontslaan nadat sy ouers vir dae langs sy hospitaalbed gewaak het.

Dokters is tevrede met sy vordering, maar vir die volgende ses weke sal dié kranige rugbyspeler en lewenslustige jongman hom baie stil moet gedra.

Dirk ry al van kleins af vierwielmotorfiets. Die dag van die ongeluk sou hy net ‘n draai gaan ry het op ‘n oop stuk grond net buite die dorp. Die motorfiets het omgeslaan toe die wiel ‘n nuwe mangat wat nie gemerk was nie, getref het, vertel Dirk se ma, Alida.

Aanvanklik is gedink dat sy beserings nie ernstig was nie, omdat Dirk net gekla het van sy ribbes wat so bietjie seer was. Teen later die aand was dit egter duidelik dat daar fout was toe Dirk flou geword en begin kla het oor drukking op sy maag. ‘n Dokter het vroeër die middag al vasgestel dat sy ribbes nie gebreek was nie.

Sy ouers het hom toe na die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp geneem waar vasgestel is dat sy milt geskeur is en hy inwendige bloeding gehad het. Sonder ‘n mediese fonds kon hul nie die vereiste betaling maak om Dirk te laat opneem in die waakeenheid nie. Hulle is toe na ‘n staatshospitaal maar na ure se wag is Dirk steeds nie gehelp nie.

Dit is toe dat mense eenvoudig hul harte oopgemaak het vir die jong seun en sy familie. Dirk is teruggeneem na die private hospitaal waar hy in die waakeenheid opgeneem kon word danksy mense wat saamgestaan het om die geld vir sy opname bymekaar te kry.
Uiteindelik is hy gestabiliseer en het goed gereageer op die behandeling met bloed en bloedplaatjieoortappings.
Hoewel daar al geld ingesamel is, is dit nog nie die helfte van die hospitaalrekening wat betaal moet word nie, sê Alida. Teen Dinsdag het die rekening al op R256 000 gestaan.

Die foto van Dirk is geneem nadat hy oor die naweek uit die hospitaal ontslaan is.

Maar Alida sê hulle glo en vertrou dat die Here ‘n uitweg sal gee.

“Ons sê net dankie vir ons Here dat Hy ons hierdeur gehelp het, en vir almal se gebede, donasies en bystand.”

As jy die gesin wil help met Dirk se mediese kostes kan die volgende bankrekening gebruik word: FA Du Pisani, FNB, takkode 250 655, rekeningnommer 622 5675 7926. Gebruik die verwysing: Dirkie. Elke sent sal verligting bring.

Related Articles

Back to top button