Raadslede en senior bestuurders kry verhoging
Op 5 Oktober 2023 het die raad ook nuwe vergoedingspakette vir die munisipale- en ander senior bestuurders goedgekeur.

Die Ngwathe Munisipale Raad het op 13 Desember verhogings in toelaes betaalbaar aan raadslede goedgekeur. Die verhoging is, ten spyte daarvan dat die Vryheidsfront Plus, DA en NgwatheRA dit teengestaan het, en die EFF buite stemming gebly het, deur die ANC meerderheid raadslede ‘deurgedruk’ sê Vryheidsfront Plus rdl. Phillip van der Merwe aan Gazette.
Die verhogings word deur die ter sake minister voorgeskryf, en is reeds op 18 Augustus 2023 in die Staatskoerant gepubliseer. Dit is terugwerkend van krag vanaf 1 Julie 2022.
Rdl Van der Merwe het namens die Vryheidsfront Plus die haglike stand van die munisipaliteit se finansies voorgehou en beklemtoon dat daar nie tans bekostig kan word om die verhogings, gegewe die huidige kontantvloeiprobleme te absorbeer nie.
Die pleidooi het egter nie vrugte afgewerp nie.
Die munisipaliteit is tans gegradeer as ‘n kategorie 4 munisipaliteit wat meebring dat die Uitvoerende Burgemeester tans ‘n pakket van R 955 651,00 per jaar sal ontvang. Die Speaker se pakket beloop R 764 518,00 per jaar en dié van lede van die burgemeesterskomitee R 716 738,00.
Voorsitters van oorsigkomitees verdien R 695 712,00 per jaar en gewone raadslede R 302 428,00 per jaar.
Die Uitvoerende Burgemeester, Speaker, lede van die Burgemeesterskomitee asook voorsitters van Oorsigkomitees is almal lank gelede reeds as voltydse raadslede aangewys.
Bo en behalwe die vermelde toelaes ontvang alle raadslede ook by die aanvang van hul termyne ‘n tablet of skootrekenaar en maandeliks ‘n selfoontoelaag van R 3 600,00.
Die munisipaliteit moet daarbenewens verder versekering vir raadslede se moontlike lewensverlies, ongeskiktheid of skade aan eiendom uitneem wat uit onluste, stakings, opstande en soortgelyke aktiwiteite mag spruit.
Lewensversekering is beperk tot R 1 500 000,00, en skade aan motors tot R 750 000,00.
Op 5 Oktober 2023 het die raad ook nuwe vergoedingspakette vir die munisipale- en ander senior bestuurders goedgekeur. Die pakette word eweneens deur die minister voorgeskryf en was op 14 Junie 2023 in die Staatskoerant gepubliseer. Dit word ook terugwerkend vanaf 1 Julie 2022 ge-implimenteer.
Vir die munisipale bestuurder by ‘n graad 4 munisipaliteit word ‘n glyskaal tussen R1 411 174,00 en R 1 608 718,00 per jaar voorgeskryf. Vir senior bestuurders wat direk aan die munisipale bestuurder verslag doen is die voorgeskrewe skaal tussen R1 158 646,00 en R 1 315 065,00 per jaar. Die raad moet die finale vergoeding binne die raamwerk bepaal inagnemende onder andere die kandidaat se kwalifikasies, bekwaamhede en ondervinding.
“Tans is die poste van die munisipale bestuurder en byna al die senior bestuurders vakant, en word dit verwag dat nuwe aanstellings vroeg in Januarie 2024 gefinaliseer sal word” sê rdl. Van der Merwe.



