Barrage Shellhole kuier saam met lede van die Moth Motorcycle Association
Dit wat die Moths vrywillig in hul onderskeie ‘Shellholes” doen, word wyd erken.
Dalk het jy dié manne en vroue, fier en regop, trots in hul uniform, al by ‘n gedenkteken of monument sien staan op die Sondag naaste aan 7 Mei met die herdenking van die stigting van die Moths (Memorable Order of Tin Hats). Óf die Sondag naaste aan 23 Oktober vir die herdenking van El Alamein, óf in November vir die herdenking van die beëindiging van Wêreldoorlog I.
Op hul lapelwapens ‘n miniatuur staalhelm – die simbool van die Orde. Hulle wat saamgesnoer is met troue kameraadskap, onderlinge hulp en opregte nagedagtenis om hulle te onthou wat nie meer daar is nie. Wat sy aan sy geveg het, maar die hoogste prys moes betaal.
Sondag het lede van die Moths Barrage Shellhole in Parys byeen gekom vir ‘n sosiale byeenkoms saam met lede van die Moth Motorcycle Association (MMA). Vir die Vrystaat was dit ‘n eer om Richard Willson (Old Bill van die Orde vir 2023/24), André Coetsee (Past Old Bill van die Orde), en Andy Boden (nasionale voorsitter en ook ‘n Past Old Bill van die Orde) hier te kon hê.
Die Barrage Shellhole is gestig op 30 April 1955 deur John Gay, C. van Schalkwyk, Tom Carter en T.A. Gradwell wat by die destydse Imperial Hotel in die dorp byeen gekom het met die gedagte vir die stigting van ‘n Shellhole. Vyftien moontlike lede is voorgestel, en is die eerste komitee op 24 Mei gekies met John Gay as eerste Old Bill vir die Barrage Shellhole.
Die Shellhole het bly groei oor die jare, en is mettertyd van die Rotaryklub se fasiliteite gebruik gemaak, en later ook van die ou perseel van die dorp se tennisklub. In 1997 is die grond langs die kommandokantore op ‘n veiling gekoop, en is begin met bouwerk op die Moths se eie perseel.
In 2020/21 val ‘n groot eer een van die Shellhole-lede te beurt. André Coetsee is as Old Bill van die Orde aangewys. Hierdie ere-posisie was nog nooit voorheen aan ‘n lid van die Barrage Shellhole toegeken nie, en is die hoogste erkenning wat ‘n lid van die Orde te beurt kan val. Slegs vier Vrystaatste lede het al dié eer gehad. Die Barrage Shellhole het tans
twintig lede.
Wie en wat is die Memorable Order of Tin Hats (M.O.T.H)?
Die Moths is ’n nie-politiese, niesektariese organisasie van dienende en oudgediende mans en vroue wat ‘n diens gelewer het in ‘n aktiewe oorlogstoneel, insluitend ons grensoorloë. ’n Edele organisasie van manne en vroue met 170 ‘Shellholes’ landwyd. Dit is hierdie manne en vroue oor die land heen
wat vir meer as ‘n halwe eeu uitreik in hul gemeenskappe. Die organisasie self is in Suid-Afrika gestig, maar het vandag ook ‘Shellholes’ in Engeland, Ierland, Namibië, Zimbabwe, Zambië en Swaziland. Hulle help behoeftiges, bou huise vir oudgediendes, dra by tot finansiële en ander hulp vir liefdadigheid, voorsien beurse en onderwystoelaes, reik uit na gewondes in militêre hospitale, en vereer diegene wat gedurende oorloë gesneuwel het.
Dit is hierdie manne en vroue wat die wreedheid, ontbering en swaarkry van oorloë beleef het, maar wat die keuse gemaak het om nou met welwillendheid en vriendskap uit te reik na hulle wat saam met hulle geveg het, maar ook in hul gemeenskappe, ongeag maatskaplike status of politieke oortuiging.
Dit wat die Moths vrywillig in hul onderskeie ‘Shellholes” doen, word wyd erken.
Hoe sluit jy aan?
* Jy moet bewys hê van aktiewe diens in enige erkende oorlog, insluitend ons grensoorloë.
* Jy moet ‘n lid van jou plaaslike Moth-eenheid nader. So ‘n lid kan dan reël dat jy die volgende maandelikse vergadering bywoon.
Vir meer inligting oor die Barrage Shellhole kontak Johan Botha by 082 797 4261. Jy kan ook meer lees oor die Moths by www.moth.org.za