OB open saak teen Emfuleni oor besoedeling van Vaalrivier
Die rioolstelsel het sedert 2018 in duie gestort weens minimale instandhouding. Riool het begin om deur begraafplase, huise, erwe en paaie tot in die Vaalrivier te stroom.

Dit blyk volgens die Groen Skerpioene dat die openbare beskermer (OB) besig is om ʼn saak teen die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) voor te berei weens besoedeling van die Vaalrivier.
Gerda Senekal, VF Plus raadslid vir die Emfuleni Plaaslike munisipaliteit sê die VF Plus het in 2020 ʼn saak by die Groen Skerpioene aanhangig gemaak weens die munisipaliteit se voortgesette oortreding van die Nasionale Waterwet.
Die rioolstelsel het sedert 2018 in duie gestort weens minimale instandhouding. Riool het begin om deur begraafplase, huise, erwe en paaie tot in die Vaalrivier te stroom.
Die menseregtekommissie (MRK) het in 2021 ná ʼn ondersoek die besoedeling van die Vaalrivier as ʼn menseregteskending verklaar.
Die MRK het Emfuleni, die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die nasionale departement van water en sanitasie verantwoordelik gehou vir die totale ineenstorting van Emfuleni se watersuiweringstelsel en die besoedeling van die Vaalrivier, sê Senekal.
Sy voeg by dat die VF Plus breedvoerig verslag aan die MRK gedoen het oor die munisipaliteit se onbevoegdheid om verouderde infrastruktuur te vervang en gereelde onderhoudswerk te doen. Dié insette is in die MRK-verslag saamgevat.
Senekal het gesê die party hou die voormalige munisipale bestuurder, Lucky Leseane, die uitvoerende direkteur van Metsi a Lekoa, Motoda Besani, en ander amptenare verantwoordelik vir die wanbestuur van die munisipaliteit. Sy sê ook die nuwe munisipale bestuurder, April Ntuli, se naam sal by die klagstaat gevoeg word.
Nie net hou die blatante besoedeling van die Vaalrivier ʼn gesondheidsgevaar vir mens en dier in nie, maar het kenners soos prof Anthony Turton ook die afgelope maand die krisis met die kommerwekkende toename van waterslaai en hiasinte op die Vaalrivier toegeskryf aan die herhaalde rioolbesoedeling van die Vaalrivier.

Die oormatige groei van hierdie plante in die Vaalrivier kan lei tot ‘n reeks ekologiese probleme, insluitend die verstikking van ander waterplante en kan die lewensvatbaarheid van ander waterdiere negatief beïnvloed. Dit kan ook waterpompe aan die rivieroewer verstop en skade aan boere se toerusting veroorsaak.
Die VF Plus sê die party is hoopvol dat die besoedeling van die Vaalrivier nou op ʼn spits gedryf gaan word.