Local newsNews

Plek van veiligheid n krisis vir dié kinders

Sedert 2 Januarie vanjaar moes maatskaplike werkers van VVA Parys reeds negentien kinders tydelik uit ouersorg verwyder.

Die dringende nood vir ‘n veiligheidshuis in Parys wat ‘n tydelike en veilige heenkome kan bied vir kinders wat weens omstandighede uit hul ouerhuis verwyder moet word het die afgelope twee maande weer onder die soeklig gekom. Dit nadat maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) sedert 2 Januarie vanjaar reeds negentien kinders tydelik uit ouersorg moes verwyder. Hiervan was die oorgrote meerderheid kinders Afrikaanssprekend.

Dwelmmisbruik blyk een van die grootste redes te wees waarom kinders verwyder moet word.

Vir dié kinders is daar geen heenkome nie. Kinderhuise is oorvol, en maatskaplike werkers sukkel om geskikte huise te kry om hierdie kinders onmiddellik te kan plaas, vertel Sanette Boonzaier, gemeenskapskoördineerder by die VVA.
Vir die huidige finansiële jaar staan die totale syfer van kinders wat die VVA Parys uit ouersorg moes verwyder alreeds op 63.
Die druk op maatskaplike werkers weens gevalle wat drasties toeneem, weerspieël ook in die 331 lêers van gevalle waar kinders betrokke is wat vereis dat gereelde tuisgebesoeke deur die VVA se twee maatskaplike werkers en twee hulpwerkers gedoen moet word.

‘n Veiligheidshuis bied ‘n tydelike plek van veiligheid vir ‘n maksimum van drie maande wanneer die kinders in die sorg van ‘n huismoeder is, verduidelik Sanette. Die tydperk kan wel verleng word as die maatskaplike werker se ondersoek nie afgehandel is nie. Intussen sal die nodige regsprosesse gevolg word om of die kinders dan weer terug te plaas by hul ouers waar moontlik, of by familie, in pleegsorg of in ‘n kinderhuis.

Vir babas is dit makliker om ‘n tydelike heenkome te vind, sê Sanette, maar vir ouer kinders is dit ‘n bykans onbegonne taak om ‘n tydelike hawe van veiligheid te vind.

In die Tumahole-woonbuurt funksioneer die VVA se Lerato Huis as plek van veiligheid al vir ongeveer 17 jaar met groot sukses en is daar tans vyf kinders in die sorg van ‘n huismoeder.

Die ideaal sou wees om ‘n huis te koop in Parys wat naby die skole sou wees wat dan as veiligheidshuis ingerig kan word.

Ongelukkig is die groot finansiële uitgawe nie moontlik vir die VVA nie en is dit net die gemeenskap se steun wat kan help om die behoefte vir ‘n veiligheidshuis in Parys dringend aan te spreek.

“As net 200 mense ‘n R100 ‘n maand gee met ‘n maandelikse debietorder of deur middel van kontantskenkings, kan dit al ‘n groot verskil maak,” sê Sanette.

André Wesseloo, voorsitter van die VVA Parys bestuur, beaam dit en sê dat die organisasie alreeds verskeie en gereelde fondsinsamelings doen om ander gate toe te maak.

Die VVA gee daagliks 120 mense kos en voorsien 65 kospakkies weekliks aan gesinne in nood.

Vanaf 1 April 2023 tot verlede week het dit beteken dat 691 gesinspakkies reeds uitgedeel is, 11 553 etes aan bejaardes vroue, kinders en persone wat die dorp skoonmaak op ‘n koeponstelsel, reeds voorsien is. Ses en negentig kinders in nood is gehelp met babamelk, doeke en geskenkpakke vir die versorging van hierdie kinders.

Daar is 898 stelle klere gratis aan behoeftiges voorsien tussen April en Desember 2023.

Dit is benewens die hulp wat gegee is met huisware, komberse, beddegoed, beddens ensovoorts.

Alle skenkings van bruikbare items word aan die publiek uitgedeel soos daar behoefte is, en as daar oormaat van skenkings ontvang word, word ander verdienstelike organisasies weer gehelp soos Glenifer, Sonskynhuis, Epilepsie SA, Najaarsrus,die Schonkenville Sentrum vir Bejaardes en andere.

Die VVA onderhou Huis Lerato ten volle om te voorsien in die behoefte van hierdie kinders se kos, klere, medikasie en nodige hulpmiddels.

Ook na bejaardes wat net ‘n Sassa-toelae ontvang, word ‘n hand van hulp uitgereik met drie egpare en tien enkellopendes wat by die Danie Fourie woonstelle gehuisves word, en ses egpare en vyf enkellopendes wat by die Hanlu woonstelle gehelp word met behuising.

Ook hier moet VVA help met alle herstelwerk en die munisipale rekenings.

En dan is daar die 352 kosblikkies wat elke maand vir behoeftige leerders gepak word.

Charisma Boonzaier sorg dat die kosblikkies gepak word vir die kinders in nood na wie die VVA uitreik.

Nood wat net al groter word sonder dat finansiële bydraes tred hou met die al groter wordende behoefte.

As jy kan help om ‘n bydrae te gee om ‘n Huis van Veiligheid vir kinders in Parys ‘n werklikheid te maak, skakel asseblief vir Sanette by 079 324 0603 of die VVA-kantoor by (056) 811 2971 gedurende kantoorure.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button