Soekhond Bennie se rusdag nie ver nie
Totdat Bennie die laaste keer sy 'uniform' sal aantrek, is hy elke oggend getrou op sy pos, want waar ao. Holtzhausen gaan, is Bravo 6039. En so sal dit wees totdat hy die dag sy laaste asem uitblaas.

Soggens wanneer hy wakker word is die 10 jaar oue Bennie, ‘n Belgiese herdershond/Husky-kruising van die polisie se K9 honde-eenheid in Sasolburg, gereed vir sy werksdag. Opstaan is deesdae strammer, en die spring in die patrollievoertuig nie so maklik soos in sy jonger dae nie. Spondylosis (werwels wat aan mekaar vasgroei) het vatplek aan sy lyf gekry, maar sy wakker oë volg elke tree van sy geleider, ao. Hollie Holtzhausen, soos wat hulle kantoor toe stap en hy sy lêplek kry. Tot dit tyd word vir ‘uniform’ aantrek.
Wanneer die werktuig-bandjie vasklik is hy gefokus.
Woordeloos deel hulle dit wat hulle die afgelope sewe jaar beleef het in vloedsituasies, in die veld, by vlak grafte waar hulle sy aan sy gewerk het op soek- en reddingstonele oor die hele Vrystaat. Vierhonderd verdrinkingsake, 288 moordsake, 380 sake van vermiste persone, 76 botsingstonele waar gesoek is na liggame wat met die geweld van ‘n botsing uit ‘n voertuig geslinger is, of die liggaamsdele van voetgangers wat raakgery is. Maar Bennie se werksdae is nou min.
Op 15 Januarie het die veearts by die SAPD K9 opleidingsentrum by Roodeplaat, Pretoria, aanbeveel dat Bennie op ligte diens geplaas moet word. Nou is dit die wag vir die laaste formaliteite voordat Bennie van die bateregister afgehaal kan word, en finaal van diens onttrek sal word. As dié dag kom dat Bennie, oftewel Bravo 6039 (sy magsnommer) uiteindelik gaan rus na lang en uitsonderlike diens in die polisie se soek-en-reddingseenheid, is dit net hier by ao. Holtzhausen in Parys waar hy sal bly.
Bennie is ao. Holthausen se derde soek-en reddingshond, maar van die begin af was hul saamwees anders. “Van die dag wat ek hom uit die werpsel gekies het – of eerder hy vir my toe hy na my toe gekom het.” Daar is ‘n gom tussen hulle wat klou, vertel ao. Holtzhausen, en jy hoor die onafskeidbare band tussen dié kollegas in sy woorde as hy vertel hoe hulle saamwerk op ‘n toneel. “Soms is dit net oogkontak, of ‘n handgebaar wat nodig is vir Bennie om te weet wat van hom verwag word as ons in die berge is, en hy my nie kan hoor nie.”
Dit was Bennie wat in 2021 help soek het na die die 35-jarige Yolandi Botes van wie dele van haar ontbinde liggaam in die omgewing van die Vaal-vakansieoord by Villiers gekry is. Sy is die laaste keer gesien toe sy ‘n Uber-diens gebruik het vanaf die OR Tambo-lughawe.
In 2022 werk Bennie en ao. Holtzhausen vir dae in dik mynslik om te soek na tekens van lewe nadat ‘n damwal by die Jagersfontein-myn gebreek het.
Daar was die tragiese geval in 2017 toe die oorskot van die 3-jarige Liam Nortjie langs ‘n treinspoor by Harrismith gevind is. Sy pa is later aan sy moord skuldig bevind.
Drie maal het Bennie en ao. Holtzhausen in Lesotho gehelp tydens natuurrampe, of met moordsake waar die hulp van die polisie se soek- en reddingseenheid ingeroep is.
“Jy werk saam met een doel voor oë. Om ‘n lewe te red, of om uiteindelik vir families afsluiting te gee wanneer ‘n liggaam gevind word.
” Vier-en-twintig uur van die dag is ons saam. Meer tyd as wat ‘n man en vrou gemiddeld in ‘n huwelik saam spandeer. As ek werk is hy by my, waar ek gaan is hy. Saans as ons huis toe kom, is hy op sy lêplek. Die dag se taak voltooi.”
En as daar nie gewerk moes word nie, was daar tyd vir plesier saam, selfs op ‘n jetski of as hul sou absail.
“Tyd is nie meer aan Bennie se kant nie. Hoewel hy nog gemaklik beweeg en die spondylosis vroeg opgetel is, kan ek sien hy’s nie meer lus vir trappe klim nie, en die opstaan is stram.”
Maar totdat Bennie die laaste keer sy ‘uniform’ sal aantrek, is hy elke oggend getrou op sy pos, want waar ao. Holtzhausen gaan, is Bravo 6039. En so sal dit wees totdat hy die dag sy laaste asem uitblaas.
Opleiding van polisiehonde:
Honde kan met groot sukses in die polisie gebruik word, vertel ao. Holtzhausen, juis dié wat sogenaamde ‘people pleasers’ is. Dit is hulle wat ‘n hoë dryf het en graag hul eienaar tevrede wil stel. Daarom word hulle dikwels met balspel die nodige vaardighede geleer om ‘n taak te kan uitvoer waarvoor hulle dan beloon word. Mettertyd assosieer die honde die taak wat hulle moet uitvoer met die beloning wat daarop volg.
Nie alle honde slaag hul opleiding nie, maar tot 60% sukses word behaal, en kan dié wat nie vir ‘n spesifieke taak opgelei kan word nie, dalk in ‘n ander dissipline meer suksesvol wees.
Reg van die begin af word daar gekyk na elke hond se welstand, en veral ook hul heupe om seker te maak dat hulle gesond en geskik sal wees om as werkshonde gebruik te word. Min mense weet dat jy ‘n hond op ongeveer tweejarige ouderdom aan die polisie kan skenk vir opleiding, en sou jy dit oorweeg, kan jy (016) 971 9100 skakel.
Die opleiding van ‘n polisiehond duur vier tot ses maande en word gedoen by die Roodeplaatdam opleidingsentrum. Dit is die enigste opleidingsentrum vir polisiehonde in die land en is ‘n top fasiliteit met net die beste veeartssorg vir die diere.
Bennie is in 2015 as opspoor- en reddingshond opgelei. Omdat daar net vier van hierdie honde en hul geleiders in die Vrystaat is, werk hul regoor die provinsie, en soms selfs in die buiteland.
Die polisie gebruik meestal Duitse herdershonde, Belgiese herdershonde, labradors, golden retrievers en selfs spaniëls om op te lei.
Daar word met opleiding van die honde op die ouderdom van 18 maande begin en kan sommige tot 12 of selfs 14 jaar oud werk, afhangend van hul gesondheid. Elke hond word egter gereeld geëvalueer.