Local newsNews

Sestien jaar en by die R55m later, maar nog nie ‘n enkele toeris nie

Vir die afgelope meer as 'n dekade staan die gebou al in onbruik.

Mooi drome. Dit is hoe die Vredefort Koepel Interpretasie Sentrum verlede week beskryf is tydens ‘n oorsigbesoek van die Vryheidsfront Plus aan die sentrum waar dit uittroon bo die natuurprag van hierdie wêrelderkende erfenisterrein langs die R59 net buite Parys.

‘n Projek waarvoor al by die R55 miljoen toegeken is in die sestien jaar sedert met die projek begin is in 2008, maar waar nog nie ‘n enkele toeris was wat hier meer kon leer oor die geskiedkundige en geologiese waarde van die Vredefort Koepel nie. Geldelike probleme het die projek van meet af aan gekelder en staan die sentrum vir jare onvoltooid.

Die kiosk en ablusiefasiliteite sal in dié gebou wees. 

‘n Uitstalruimte en ouditorium sal aan besoekers meer agtergrond gee oor die ontstaan, en geologiese waarde van die Vredefort Koepel wat as een van die oudste wêrelderfenisterreine erken word en oor dekades geoloë van regoor die wêreld hierheen gelok het om die natuurwonder te aanskou. 

Tammy Breedt, VF Plus LP luister aandagtig na wat die voorman, Aubrey Nkoe verduidelik.

In haar opsomming oor die projek, het Tammy Breedt, VF Plus LP gesê die realiteit is dat hierdie soos soveel ander regeringsprojekte in die Vrystaat gekenmerk word aan ‘n sekuriteitshuisie en ‘n heining waarna daar belangstelling verloor word.

Die sentrum sluit ook ‘n amfiteater en kunsmark in. 

Nadat die projek in 2008 begin is was dit in 2011 nog in aanbouing. Aanvanklik is met R11,7 miljoen begin. Daarna het die projek vir jare tot stilstand gekom. Onvoltooid – met die indruk wat gelaat is dat daar strukturele integriteit probleme was. Maar geldelike probleme was eintlik die klip in die skoen, en telkens het nuwe kontrakteurs op die perseel gekom en gegaan sonder dat wesenlike vordering gemaak is om die projek te voltooi.

Daar is steeds nie water, elektrisiteit of riolering nie, maar mooi planne vir uitstallings en ‘n ouditorium, kunsmark, amfiteater en kiosk.Vir die afgelope meer as ‘n dekade staan die gebou al in onbruik, totdat die Minister van Toerisme weer ‘n aanvanklike R24 miljoen beskikbaar gestel het sodat die projek einde ten laas voltooi kon word. Gazette het vroeër berig dat die Development Bank of South Africa (DBSA) Durapi Consulting (Edms.) Bpk. in 2022 aangestel het as diensverskaffer.

In Januarie 2023 kon die kontrakteur, Yahweh Construction and Projects nie salarisse betaal nie, en is hul kontrak na minder as ‘n jaar beëindig.
Weer is ‘n nuwe kontrakteur aangestel. Macho Group Construction Company, wat die afgelope drie maande effektief op die terrein besig is en reeds het die minister van toerisme, Patricia de Lille, aangedui dat R19 miljoen aan die projek toegeken word om dit te voltooi. Wanneer die sentrum uiteindelik sy deure vir die publiek sal oopmaak, is ‘n ope vraag, want teen verlede week is daar weer gesloer nadat daar opnuut finansieringsprobleme was en eers voortgegaan is met die heining om die perseel.

“Ek het al té veel van hierdie projekte gesien. Ek het al té veel leë beloftes gehoor. By die R55 miljoen wat hier ingesit word, en nie ‘n sent wat tot nou toe vir Vrystaatse toerisme gemaak is nie,” het Breedt gesê.

Dit word ook beaam deur die VF Plus LP Michal Groenewald, wat tydens die besoek gesê het dat sou die projek in die privaat sektor se hande gesit word, dit vinniger en met minder koste voltooi sou kon word.

Daar is geen twyfel dat die sentrum ‘n enorme aanwins vir toerisme in Parys en Vredefort, maar ook die Fezile Dabi streek en die Vrystaat Provinsie kon wees, sou dit uiteindelik voltooi word. Die Vredefort Koepel is een van die groot toerisme aantreklikhede vir Parys wat onder meer ook deur Parys Info & Tourism bemark word.

Selfs die plaaslike fietsrygemeenskap sit in afwagting om die terrein te gebruik wat baie geskik is vir fietsrenne, het Attie Koekemoer gesê, maar sonder infrastruktuur hier, en ‘n halfklaar projek bly ook dit net ‘n mooi droom. Feit is dat hier nog baie gedoen moet word voordat toeriste verwelkom kan word.

Related Articles

 
Back to top button