News

Trotse prestasie vir pa en seun

'n Groot eer vir die twee Parysenaars

Hoërskool Parys se mnr. Lucien van Zyl was die afgelope naweek assistent-skeidsregter vir die provinsiale SA ‘Cup’ rugbywedstryd tussen die SWD Arende en die Gauteng Valke. ‘n Trotse prestasie vir dié Parysenaar.
Boonop het pa en seun die voorreg gehad om albei op en langs die veld diens te doen, vertel dié trotse pa.

Sy seun, ook Lucien, was aangestel as die amptelike H2O (waterdraer) vir die skeidsregter. Die jongeling is deel van die Valke Skeidsregters Unie en help naweke die Valke se uitvoerende komitee met die veldbeplanning en wedstryd organisering. Lucien (jr.) het reeds drie kursusse voltooi waarmee hy sy droom najaag om soos sy pa skeidsregter te wees.

Die Valke het Saterdag se wedstryd op die Barnard-stadion in Kempton Park met ‘n telling van 63-31 gewen.

Die aangestelde skeidsregter vir die wedstryd was Griffin Colby wat op die SA-paneel is, met die Valke Skeidsregters Unie president, Frans Trollip wat die ander assistent-skeidsregter op die veld was.

Lucien het na afloop van die wedstryd vertel dat dit vir hom ‘n belewenis en voorreg was om assistent-skeidsregter vir die wedstryd te kon wees. “Mens besef nie aldag wat in ‘n professionele opset agter die skerms gebeur nie.” Hy is in 2024 bevorder na ‘n eerste liga skeidsregter. “Ons unie-skeidsregters kry op ‘n Saterdag drie tot vier wedstryde om te blaas,” vertel hy. Sodoende word ervaring opgebou.

Benewens die Valke-wedstryd was hy Saterdag skeidsregter vir Hoërskool Parys se eerste span wedstryd teen Elspark in Germiston. Parys het Elspark met 25-21 gewen.

Related Articles

 
Back to top button