Local newsNews

So amper by Jeffreys en die R120 000 doelwit

Nog net vier dae se fietstrap oor

Van Steynsburg tot by Cradock. Dit was vandag se skof. Môre trap hy Pearston toe. Vier dae van die roete wat nog oorbly vir Adriaan van der Westhuizen om  Jeffreysbaai – sy eindbestemming te bereik.

En wanneer hy Woensdag 1 Mei Jeffreysbaai sal inry, sal dit ‘n uitmergelende  altesaam1 200km wees wat hy te fiets vanaf Johannesburg afgelê het ten bate van Geopende Deure.

Teen vanoggend, Saterdag 27 April, het Adriaan met twee-derdes van die roete voltooi, reeds R80 720 vir Geopende Deure ingesamel. Sy mikpunt is om R120 000 in te samel vir die internasionale, nie-winsgewende bediening wat ondersteuning aan vervolgde Christene wêreldwyd gee.

Adriaan  was nog altyd ‘n geesdriftige fietsryer, totdat Covid mense agter grendels gesit het, en hy ophou fietsry het in 2020. Drie jaar later, in 2023, het Adriaan besef hy mis die fietsryery en wou weer die fietsspeke laat sing, maar dié keer wou hy sommer ‘n lekker uitdaging daarvan maak.

Hy het sy roete uitgewerk van Johannesburg na Jeffreysbaai (Joburg2Bay), en begin om doelgerig voor te berei met ‘n 12 weke gefokusde uithou oefenprogram. Met die lang ure se oefen het hy gou besef hierdie moes meer wees as iets op sy emmerlysie. In sy motor op die M1 het hy op ‘n dag die besluit geneem – hy sou die 1 200 km roete te fiets vir Geopende Deure ry.

Twee weke voor die wegspring het hy al begin met sy fondsinsameling .

Die prentjie voor hom vanuit sy ‘kantoor’ spog Adriaan.

Adriaan vertel dat dit nie sy eerste fondsinsameling vir Geopende Deure is nie. In 2010 het hy en sy pastoor die Twee Oseane gehardloop ten bate van die organisasie, maar hy is meer gebou vir gerief vertel hy. Dié dat fietsry meer in sy kraal gepas het.

Hy het baie beplanning vir die fietstoer gedoen, maar om met bagasie te ry was beslis iets om aan gewoond te raak. “Toe ek wegtrek het ek geweet hier’s moeilikheid.” Hy moes eers sy balans kry, en sy selfoon het op dag een twee maal langs die pad geval.

Niks onnodig word saamgery nie. Net twee stelle ryklere, ‘n warm baadjie, sweetpakbroek, reënjas, laaiers vir sy elektroniese toebehore en selfoon, fiets-gereedskap en energie aanvullings. Om gewig op die fiets te beperk het hy vooraf van sy energie aanvullings ook per koerier gestuur na oornagpunte op sy roete.

Waar hy kan ry hy grondpaaie of agterpaaie. Hy het geen ondersteuningsvoetuig wat hom vergesel nie. “Ek wou aan myself bewys dat ek dit kan doen. Dit is iets wat ek wou doen voordat ek 60 geword het.” Hoewel hy nie daarin kon slaag voor 60 nie, lui die gesegde mos “Liewer laat as nooit.” “Ons onderskat dit wat ons liggame kan doen,” sê hy. Hyself het eers in sy middel vyftigs begin fietsry.

“Ek is ‘n professionele verdwaler,” het hy vertel toe hy op die eerste dag van sy roete in Parys gestop het. “Ek sal op ‘n 100m ‘sprint’ verdwaal,” het hy  al laggend geskerts.

So in die verbyry waar hy gaan kyk die ‘locals’ en skud kop vir die mal perd wat hy opgesaal het, maar Adriaan se fokus is op die eindbestemming en die wete dat hy ‘n verskil maak.

Op 1 Mei ruil hy sy fietssaal vir ‘n vliegtuigsitplek, want daar is nie ‘n manier dat ek terugtrap nie, sê hy laggend. “My kaartjie is klaar geboek.”

Jy kan meer lees oor Geopende Deure by www.opendoors.org.za.

As jy ‘n bydrae wil maak ten bate van Geopende Deure, gaan na https://www.backabuddy.co.za/campaign/1200 km-bible-ride
Alternatiewelik kan jy ‘n elektroniese inbetaling maak: Geopende Deure, Absa takkode 632005, rekeningnommer 917 217 4758. Die verwysing is BG24.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button