Local newsNews

Bewarea praat oor Koepel-probleemplante

Vir meeste van die probleemplante wat bespreek is, is daar reeds geregistreerde en beproefde chemiese oplossings, maar waar meganiese of ander bestuursmaatreëls suksesvol met chemiese behandelings geïntegreer kan word, is dit die beste opsie, sê Jordaan.

Die Vedefort Koepel is bekend vir sy interessante geologiese verskynsels, en soms eiesoortige klimaat, maar ook die voorkoms van inheemse bome wat eintlik meer eie is aan die Bosveld.

So byvoorbeeld kry jy hier die gewone drolpeer (Dombeya rotundifolia), en fluweelboswilg (Combretum molle). Daar kom egter ook ‘n verskeidenheid probleemplante, in- sowel as uitheems, voor.

Dit is oor hierdie probleemplante waaroor gasspreker Ferdie Jordaan gesels het tydens ‘n inligtingsaand van die Koepel Bewarea wat by Venterskroon Inn gehou is.

Jordaan het van die bekende, en soms minder bekende probleemplante in weidings van hierdie gebied bespreek by die informele geleentheid wat deur Bewarea lede en belangstellendes bygewoon is.

In sy praatjie het Jordaan inkbessie (Cestrum spp.) uitgewys as een van skadelikste uitheemse indringers. Hierdie verpesting kom wyd voor op die oewers van die Vaalrivier, waar dit dikwels onder ander bome groei soos die saad deur voëls versprei word.

Die plant is baie giftig vir beeste, bokke en skape, hoewel wild oor die algemeen minder sensitief is, of die plant vermy.

Inkbessie loop baie vroeg in die lente uit, en omdat dit dikwels die enigste plant met vars jong blare is in hierdie droë periode, vind vee dit soms onweerstaanbaar, met hartseer gevolge.

Die voorliefde van inkbessie om onder ander bome te vestig, beperk die keuse van onkruiddoders wat met veiligheid gebruik kan word ten opsigte van gewenste houtagtige spesies, soos witstinkhout – ‘n baie sensitiewe plant sover dit onkruiddoders aangaan.

‘n Ander plant wat kortliks bespreek is deur Jordaan, is die inheemse bankrotbos, ook soms slangbos genoem (Seriphium plumosum).

Bankrotbos

Bankrotbos, sê Jordaan se toename in weidings is nie noodwendig die gevolg van oorbeweiding nie, maar waarskynlik die gevolg van ander skadelike langtermyn bestuurspraktyke, waaronder té ligte veebelading, wat weer lei tot konstante selektiewe beweiding waardeur bankrotbos bevoordeel word.

 

Die Koepel huisves ook verskeie uitheemse kaktusspesies soos orrelkaktus (Trichocereus spachianus), queen of the night (Cereus jamacaru), Australian pest pear (Opuntia stricta) en large flowered prickly pear (O. humifusa). Elandsboontjie – (Elephantorriza elephantina) is ook inheems, maar kom nou baie wyd voor waar dit veld kol-kol inneem.

Soetdoring (Vachelia karroo) en katbos (Asparagus laricinus) is twee baie bekende verdigters.

Hoewel hulle nie strawwe kompeteerders is ten opsigte van vog nie, en dus ‘n indirekte invloed het op grasproduksie, vorm hulle soms feitlik ondeurdringbare boskasies, en in sulke gevalle lei drakrag beslis daaronder.

Katbos is ook baie moeilik om te beheer, hetsy deur meganiese praktyke of veldbestuursingrype soos brand. Die enigste metode wat ‘n beduidende mate van sukses bied, is chemies van aard.

Katbos met sy indrukwekkende wortelstelsel wat ontbloot is deur gronderosie. Foto’s: Ferdie Jordaan.
Katbos

‘n Moontlike rede waarom katbos so moeilik beheer word deur middel van chemiese behandeling, is waarskynlik omdat die verhouding van blaaroppervlakte, waarop die spuitmengsel toegedien word, en die indrukwekkende wortelstelsel, waar die produk moet eindig, so ongunstig is.

Vir meeste van die probleemplante wat bespreek is, is daar reeds geregistreerde en beproefde chemiese oplossings, maar waar meganiese of ander bestuursmaatreëls suksesvol met chemiese behandelings geïntegreer kan word, is dit die beste opsie, sê Jordaan.

Onkruiddoders, volgens Jordaan, is in werklikheid onontbeerlik, maar moet reg aangewend word om veiligheid te bevorder wat gewenste plantegroei asook mense wat daarmee werk, betref.

Hy het gewaarsku dat dit noodsaaklik is dat mense produketikette lees en verstaan voor gebruik daarvan.

Sy raad was dat waar nodig kundige advies van spesialiste op die gebied van probleemplante gekry moet word, eerder as van mense met erkende kundigheid wat uitsluitlik verband hou met verbouing van akkerbougewasse soos mielies, sonneblomme of sojabone.

“Wees ook versigtig vir ongeregistreerde en onbewese boererate,” het hy gemaan.

Om landbou-chemiese produkte te registreer is ‘n ingewikkelde proses wat jare kan duur.

Jordaan meld byvoorbeeld dat die tydperk wat verloop vanaf die eerste proef, tot registrasie toegestaan word op ‘n enkele plantspesie en ‘n gepaardgaande metode van toediening, onder Wet 36 van 1947, tot sewe jaar kan duur.

Die aand is afgesluit met ‘n gesellige ete.

Foto’s: Ferdie Jordaan. 

Interessante besprekings vorm deel van die Koepel Bewarea se byeenkomste.

Related Articles

 
Back to top button