Local newsNews

Raadslid laat diep spore in gemeenskap

'n Gedenkdiens vir Freddy is Woensdag 1 Mei in die Schonkenville-saal gehou. Die begrafnis is Saterdag, 4 Mei.

Rdl. Freddy Scholtz wat sedert 2013 deel van die Ngwathe DA Koukus was, is Sondag, 28 April in die vroeë oggendure in die ouderdom van 46 jaar in die Parys-hospitaal oorlede.

Hy het as raadslid in die munisipaliteit gedien van 2013 tot 2021, en het daarna tot en met sy afsterwe as direk verkose raadslid vir die Fezile Dabi distriksmunisipaliteit gedien.

Roy Jankielsohn, die DA se Vrystaatse premierskandidaat het Sondag in ‘n huldeblyk aan rdl. Scholtz gesê dat hy onthou sal word vir sy harde werk en toewyding in die gemeenskap wat hy gedien het. “Ons gebede en gedagtes gaan uit na sy familie in hierdie moeilike tyd,” het Jankielsohn gesê.

Ngwathe koukusleier, Carina Serfontein het rdl. Scholtz beskryf as ‘n gemeenskapsman wat graag gedien en uitgereik het na minderbevoorregtes.

Dit is ook deur Layla Ismail, skoolhoof van die Schonkenville Gekombineerde Skool beaam waar hy Beheerliggaam voorsitter was van 2021-Maart 2024. Hy is daarna tydens die beheerliggaam verkiesing herkies as lid van die skool se beheerraad. Ismail het vertel hoe Freddy dit sy misie gemaak het om gereeld die skool te besoek. “Hy het altyd die kinders se belange eerste gestel, en ek kon altyd weet hy is daar vir die skool. Hy het ‘n groot impak op die skool en gemeenskap gehad.”

Freddy was ook ‘n lid van die Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF).
Sy dogter, Frederika, sê hulle sal haar pa onthou as iemand wat baie kon praat, maar ook iemand wat baie kon lag. Iemand met ‘n goeie hart.

‘n Gedenkdiens vir Freddy is Woensdag in die Schonkenville-saal gehou. Die begrafnis is Saterdag, 4 Mei.

Freddy word oorleef deur sy dogters Frederika en Precious, asook ‘n suster.
Omdat rdl. Scholtz ‘n direk verkose raadslid was sal ‘n ander raadslid nou aangewys moet word om op die distriksmunispaliteit te dien nadat ‘n interne kandidate keuringsproses plaasgevind het om ‘n lys saam te stel.

Related Articles

 
Back to top button