Genoeg gehad met gesukkel met water, sê Heilbron-inwoners
Protesoptog môre gehou oor waternood

Inwoners van die Vrystaatse dorp Heilbron is al so keelvol met die dorp se ewige waternood sedert Desember 2023, dat dié gemeenskap Woensdag 8 Mei sal saamtrek vir ‘n protesoptog om aan te dring op die dienslewering waarvoor hulle betaal. Verskeie politieke partye asook die burgerregte organisasie AfriForum, ondersteun die optog waartydens ‘n klagskrif en memorandum aan Ngwathe se Uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, oorhandig sal word.
Heilbron het Maandag ‘n skamele 4,6 megaliter water vir die dag gehad teenoor die minstens 8 megaliter water per dag wat nodig is.
Die dorp is deel van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit wat deur Rand Water van water voorsien word, en aan wie die munisipaliteit al in die omgewing van R67 miljoen skuld.
Gazette het in April berig dat die dorp se waterstryd opnuut begin het enkele dae nadat die Noord-Gautengse Hooggeregshof op 26 Maart beslis het dat AfriForum se aansoek vir ‘n dringende interdik vir die herstel van watertoevoer na Heilbron onnodig sou wees omdat Rand Water toe reeds die vroeëre waterbesnoeiing in die dorp gestaak het. Die waterbesnoeiing is deur Rand Water onder meer in Heilbron toegepas as skuldinvorderingsmeganisme.
In Desember 2023 is die dorp se watertoevoer ook skiellik verminder van ‘n normale 8 megaliter water per dag na sowat 4,6 megaliter per dag. Op 6 Maart vanjaar het die dorp slegs 3,8 megaliter water gekry, waarna dit deurlopend verbeter het tot sowat 5,2 megaliter water per dag. Teen 13 Maart was daar skielik na maande konstant water in die krane.
AfriForum het egter die hof op 11 Maart genader met sy aansoek, na Rand Water ‘n kennisgewing op 1 Maart uitgereik het waarin die Merafong, Rand West, Emfuleni, Lesedi, Ngwathe, Govan Mbeki en Victor Kyanye munisipaliteite gewaarsku is oor waterbesnoeiings as dié munisipaliteite nie hul skuld betaal en afbetalingsooreenkomste beding nie. Die munisipaliteite het toe al Rand Water gesamentlik R3 miljard geskuld.
Voor die kennisgewing is Ngwathe en Merafong ook op 24 Februarie gewaarsku oor Rand Water se voorneme vir waterbesnoeiing, en was dié twee munisipaliteite die enigste wat gewaarsku is, waar waterbesnoeiings toegepas is, en daarna weer opgehef is.
Intussen blyk dit dat die Merafong Plaaslike Munisipaliteit oënskynlik weer ‘n kennisgewing van Rand Water ontvang het oor beplande waterbesnoeiing met 20% binne 30 dae nadat die kennisgewing uitgereik is, weens die munisipaliteit se versuim om sy skuldverpligting teenoor Rand Water teen 30 April na te kom. Navrae is deur Gazette aan Rand Water gerig om vas te stel of ‘n soortgelyke kennisgewing ook aan Ngwathe uitgereik is. Antwoord van Rand Water is nog nie met die skryf van hierdie berig ontvang nie.
Heilbron is egter nie die enigste Ngwathe dorp wat gebuk gaan onder voortslepende waterprobleme nie. Ook die dorpe Parys, Vredefort, en Koppies sukkel knaend met watervoorsiening en sit inwoners dikwels vir dae sonder water.
Die VF Plus se rdl. Philip van der Merwe sê die situasie in Heilbron is tans so benard dat die druk eenvoudig so laag is dat sommige dele nie ‘n druppel water het nie. Hy sê Ngwathe se Uitvoerende Burgemeester het vandeesweek in antwoord op sy vrae, aangedui dat sy dringende samesprekings met Rand Water bestuur wil voer oor die waterkwessie. Sy het aan hom laat blyk dat sy nie bewus is van enige kennisgewing van Rand Water wat weer uitgereik is oor waterbesnoeiing vir Heilbron nie.
“Om te voldoen aan Rand Water se eis dat die lopende rekening gereeld betaal word en ‘n afbetalingsplan vir die agterstallige skuld beding en nagekom word, is eenvoudig onhaalbaar, gegewe Ngwathe se huidige finansiële krisis. Sonder ingryping van die nasionale regering voorsien ek nie dat ‘n oplossing gevind sal kan word nie,” sê rdl. Van der Merwe verder.
Naas Rand Water skuld Ngwathe Eskom ook net meer as R2 miljard.
Rdl. Van der Merwe het vroeër ‘n skrywe aan die minister van waterwese en sanitasie gerig oor Heilbron se waterkwessie. In sy antwoord het die minister aangedui dat Ngwathe nooit op Rand Water se verminderingskennisgewing van Desember 2023 gereageer het nie, en dat Rand Water gevolglik aangeneem het dat Ngwathe die vermindering aanvaar.
Gazette het ook in Maart vanjaar berig dat beurtkrag en die dorp se waternood Clover, een van Heilbron se groot nywerhede miljoene per jaar kos. Steven Velthuysen, bestuurder regs-sekretariële en menslike hulpbronbestuur by Clover het toe gesê dit is tans bitter moeilik om nuwe besigheid na kleiner dorpe te bring as gevolg van die onvoorspelbaarheid van dienste soos water en krag.
* AfriForum het verlede week hofstukke by die Bloemfonteinse Hoë Hof ingedien om te vra dat die Ngwathe Munisipaliteit onder administrasie geplaas moet word.



