Uitstaande talent by Eidteddfod musiek en drama verwag
Die Allegretto interprovinsiale Eisteddfod gaan vir die eerste keer 'n uitdun vir drama en musiek in die pragtige NG kerkgebou in Vredefort aanbied.
Die plaaslike Allegretto interprovinsiale Eisteddfod uitdun vind op 13 Junie by die pragtige NG Kerk in Vredefort plaas. Die program neem reeds ‘n aanvang vanaf 13:00 en eindig net na 16:00 met repliek.
Verskeie jong talent, waaronder die meeste studente van die bekende en talentvolle Erna Rademan is, gaan by dié nasionale platform vir uitvoerende kunste optree.
Die hoof uitvoerende beampte van Allegretto IPE, Marius Lourens, is baie opgewonde oor die dag in sy grootword dorp waar hy op die einste orrel in die pragtige klipkerk gebou gereeld geoefen het as jong B.A (Mus) student aan NWU gedurende die vroeë tagtigerjare.
Hy het ook self vroeër as aflos-orrelis in die kerk opgetree.
Die bekende prof. Santisa Viljoen van Potchefstroom sal as beoordelaar vir die musiek en sangitems optree.

Prof. Santisa het haar voorgraadse studies aan die Noordwes-Universiteit voltooi.Sy doen haar hoofvak in Toegepaste Vokale Studies onder leiding van Werner Nel, en was onder andere betrokke by TLU met ‘n Ph.D in Musiekwetenskap, ‘n MA in Engelse Letterkunde (cum laude) en nagraadse Diploma in Onderwys.
In 2001 sluit sy aan by die personeel van die NWU Konserwatorium waar sy Toegepaste Vokale Studies, Stempedagogie en Koorleiding gegee het.
Sy is ‘n gepubliseerde skrywer wat steeds oor doktorale studente toesig hou, selfs nadat sy aan die einde van 2022 afgetree het.
Verskeie van prof. Santisa se studente het oor die afgelope tien jaar op nasionale en internasionale vlak uitgeblink.
Prof. Santisa word hoog aangeskryf as opvoeder en het meesterklasse in sang en vokale ontwikkeling vir soliste en koorlede in Suid-Afrika, Nederland, Swede en Finland aangebied. Sy het ook as beoordelaar en eksaminator vir nasionale en internasionale geleenthede opgetree.
In 2017 is sy genomineer vir ‘n Fiësta-toekenning in die kategorie Beste Prestasie in Klassieke Musiek vir haar bydrae in die RSG: Dis Opera-produksie wat deel was van Aardklop 2017.
Almal wat van die uitvoerende kunste hou of graag die kunstenaars wil ondersteun, word genooi om op 13 Junie die geleentheid in die Vredefort NG Kerk by te woon. Kaartjies kos R45 per persoon.



