Vespas en vuil voete in Venterskroon
Hulle kom gereeld hiernatoe, en as jy weer oor 'n naweek die Vespas hier sien intrek - dan weet jy, hier kom weer 'n lekker vuil voete-kuier in die Vrystaatse platteland.
Hulle noem hulself die Chicken Runners. Manne met ‘n passie vir Vespa-bromponies waarmee hulle die land vol toer. Die afgelope naweek is daar koers gekies op die stofpad Venterskroon toe om hier in die hart van die Vredefort Koepel se ongerepte natuurprag te kom asem skep langs die braaivleisvuur, en ‘n tentjie staan te maak onder die sterrehemel.
Plek vir baie bagasie is daar nie – net dit wat pas op die bromponie – jou tent, ‘n tandeborsel en ‘n skoon onderbroek of twee. Die res los jy, gesels hulle vroegoggend toe hulle stop vir petrol en ‘n ‘pie’ voor hulle die pad vat huis toe.
Die vuil voete toere doen hulle al die afgelope dertien jaar, en een maal per jaar is dit tyd vir die lang pad vir ‘n weldaad. Dan word daar ver gery om ‘n welsynsorganisasie of iemand in nood te help.
Passie vir die Vespas het nie ‘n ouderdomsperk nie. Die oudste onder hulle – die 93-jarige Jannie Alberts van Roodepoort. Jannie se seun, Gerrie ry ook, en so ook sy kleinseun en jongste van die groep, die 30-jarige Wayne Alberts .


‘n Bystandvoertuig ry altyd saam net vir in geval ‘n bromponie ‘moeg’ raak, en vir die kleinighede wat ‘gefix’ kan word het hulle selfs hul eie ‘mechanic’ wat saam toer.

Hulle hou van Parys, gesels die groep Vespa-manne. Hulle kom gereeld hiernatoe, en as jy weer oor ‘n naweek die Vespas hier sien intrek – dan weet jy, hier kom weer ‘n lekker vuil voete-kuier in die Vrystaatse platteland.




