Al minder musiek in skole gehoor
"Juis daarom kom hierdie inisiatief van die FAK om 'n jeugsimfonieorkes saam te stel as so 'n ongelooflik nodige aksie vir die tyd waarin ons leef. "

Al minder musiek word deesdae in skole gehoor weens die afskaffing van musiekonderwysposte by skole sedert 1995.
Gevolglik verdwyn goeie skoolkore en duisende kleindorpse kinders kry nie meer die geleentheid om ‘n instrument by die skool te leer speel met ‘n uitstekend, gekwalifiseerde musiekjuffrou teen billike fooie nie. Selfs skoolkonserte is besig om te verdwyn, sê Erna Rademan wat vir jare by skole en skolemusiek betrokke was.
Aangesien die voorraad musiekleerlinge van die platteland tot ‘n druppende kraan afgeneem het, sluit hele afdelings by ons universiteite se Musiekdepartemente wat worstel om hul deure oop te hou, sê sy verder.
“Die klein oes van jongmense wat in staat is om wel musiek te gaan studeer en kwalifiseer, word deur groot stadskole opgeraap. Plattelandse skole is 100% afhanklik van ‘n skoolhoof wat weet hoe belangrik musiekonderrig in die lewens van leerlinge is, en die saak dryf, meen sy.
“Daarmee saam is ‘n beheerliggaam nodig wat planne maak om ‘n musiekpos te skep, en ‘n gekwalifiseerde persoon aan te stel,”sê sy.
Hoe minder klavierleerlinge deur die sisteem opgelewer word, hoe minder van hulle kies die orrel as ‘n instrument. Derhalwe bloei plattelandse gemeentes en word hulle geforseer om ander alternatiewe vir musiek tydens eredienste te gebruik, sê Erna. Sy meen kerke lei eweneens hieronder. “Terwyl die musici in sommige gemeentes pragtig speel, en ‘n kardinale rol speel in die aanbiddingsoomblik, is dit ongelukkig ook so dat vanweë die gebrek aan musiekopleiding, gemeentes soms uitgelewer is aan onbevredigende musikale begeleiding, ” sê sy.
” Daar is bloedweinig plattelandse dorpe waar daar wel nog privaat, goed opgeleide musiekonderwysers is wat lesgee, maar ouers betaal duur vir hierdie lesse en kan dikwels nie beskostig dat meer as een kind les neem nie.
“Juis daarom kom hierdie inisiatief van die FAK om ‘n jeugsimfonieorkes saam te stel as so ‘n ongelooflik nodige aksie vir die tyd waarin ons leef. ”
“Dit gee die musiekliefhebbers onder ons die geleentheid om te streef na meer”, sê sy.
“Net om te sien dat kinders in die stad wel nog speel en so mooi speel, gee my hoop,” het Erna in ‘n onderhoud met Gazette gesê.
“Daarom moet ons hulle ondersteun en alles in ons vermoë doen om die orkes weer en weer platteland toe te laat kom,” voeg sy by.
Die FAK Jeugsimfonieorkes is Vrydag, 28 Junie in Vredefort wanneer hulle om 17:30 vir 18:00 in die NG Kerk Vredefort in Markstraat optree.
Hulle is Sondag, 30 Junie om 11:00 by die Moedergemeente in Kroonstad, en ook Sondag, 30 Junie om 15:00 by die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg.