Uitsonderlike Jeugsimfonie-orkes uitvoering in Vredefort
Die orkes was ook een van die genooide groepe om by die Stellenbosche Internasionale Kamermusiekfees op te tree.

Musiekleerlinge van so jonk as agt jaar is kliphard aan die oefen vir wanneer die FAK Jeugsimfonieorkes eersdaags in dié klein Vrystaatse dorpie van Vredefort sal optree.
Na die oorweldigende positiewe reaksie van die gemeenskap van Parys en omliggende dorpe met die FAK Jeugsimfonieorkes se konsert wat in Maart by Udolpho gehou is, gaan Parysenaars en inwoners van Vredefort eersdaags weer die besonder talentvolle orkesgroep hoor wanneer hulle in die pragtige NG kerkgebou in Vredefort speel.
Die orkes sal tydens hul toerprogram op verskeie plekke in die Vrystaat optree.
Vredefort-konsert
Die baie talentvolle en befaamde Erna Rademan is die gasvrou vir die konsert in die Vredefort NG kerkgebou.
Erna se musiekleerlinge sowel as lede van die publiek wat ‘n instrument kan bespeel, sal tydens die konsert die bekende Sarie Marais saam met die Jeugorkes speel.
Erna vertel haar musiekleerlinge is opgewonde om saam met ‘n simfonieorkes te kan speel.
As jy nou eers hiervan te hore kom en smag om weer jou instrument af te stof, kontak vir Erna by 082 565 1085 vir die bladmusiek.
Kaartjies vir die konsert in Vredefort kos R120 vir volwassenes en R80 vir kinders.
Gebruik die skakel, https://plankton.mobi/Events/EventBooking/a32c147b-8394-45f3-b355-8b60659f023b om aanlyn kaartjies te koop, of betaal kontant by die deur en kom ondersteun hierdie groep talentvolle jongmense.
Konsertgangers sal kan warm word met ‘n glasie sjerrie, en daar sal ook koffie en warmsjokolade verkoop word na die konsert. Bring dus kontant saam.
Meer oor die orkes:
Die FAK Jeugsimfonieorkes is in Oktober 2022 gestig met die aanstelling van dirigent Jaco van Staden. Die doel was om nuwe vernuf en meer gereelde beoefening van oorspronklike orkesmusiek onder die jeug te bevorder om so ‘n uitnemende standaard van ensemblespel en musikaliteit te vestig.
Dit is reeds in ‘n kort tydjie vermag deur die orkes se 21 lede tussen die ouderdomme van 10 en 21 jaar. Op 24 Maart is hul eerste amptelike publieke konsert in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument gehou. Reeds in sy eerste bestaansjaar (2023) het die orkes verskeie hoogtepunte bereik, met uitvoerings saam met die Akademiakoor en bekroonde liedjieskrywer, Jannie du Toit.
Die orkes was ook een van die genooide groepe om by die Stellenbosche Internasionale Kamermusiekfees op te tree.
Die jeugorkes se verskeie konserte in 2023 het die FAK in staat gestel om klassieke musiek op ‘n meer gereelde basis te ontwikkel deur middel van die FAK Klassieke-konsertreeks waar ‘n platform geskep word vir verskeie klassieke musiekkonserte by die Voortrekkermonument
Behoud



