Aansoek vir hooggeregshof om te beslis oor moord op bejaarde
Kenny het met sy lewe geboet vir net sy selfoon en beursie, 'n gasbottel en sy skootrekenaar.

Blonde Motale en Piet Mbele, die twee mans van die Tumahole-woonbuurt wat vir die moord op Kenny Browne (72) teregstaan, sal weer op 17 Julie in die hof verskyn. Hulle het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Parys verskyn waar die saak uitgestel is vir verdere ondersoek vir die nagaan van selfoonrekords en DNA vergelyking.
Daar sal ook nou aansoek gedoen word vir die moontlike oorplasing van die verhoor na die hooggeregshof.
Motale en Mbele bly in aanhouding nadat borgtog in Mei deur landdros Porogo geweier is.
Kenny is deur sy moordenaars met ‘n plastieksak versmoor. Sy lyk is die oggend van 3 Maart deur ‘n gemeentlid van die Metodiste Kerk, Margie Frare, in sy huis in Fochstraat aangetref.
Sy het na hom gaan soek omdat hy nie soos gewoonlik die Sondagoggend by die kerk was om te help met die erediensreëlings nie.
Kenny het met sy lewe geboet vir net sy selfoon en beursie, ‘n gasbottel en sy skootrekenaar. Kenny se selfoon en die selfoon van nog ‘n bejaarde vrou van Parys wat ook in haar huis oorval en aangerand is, is in die verdagtes se besit gevind. Die polisie het ook beslag gelê op Kenny se skootrekenaar, sy gasbottel, en elektroniese ware wat oënskynlik deur die verdagtes verkoop is.
Die hof het tydens die formele borgtogaansoek van Motale en Mbele gehoor dat beide ‘n lang lys van vorige veroordelings het.
Motale staan ook tereg vir die huisroof in Loopstraat in April vanjaar waarin ‘n bejaarde vrou in ‘n soorgelyke modus operandi in haar huis aangeval is toe hy die dag as tuinier vir haar gewerk het.
Motale sal ook op 17 Julie vir dié saak in die hof verskyn.
Onder Motale se geskiedenis van vorige veroordelings is verskeie sake van huisbraak en diefstal, asook roof.
Mbele is in die verlede verskeie keer gevonnis vir ontsnapping uit aanhouding, en versuim om aan paroolvoorwaardes te voldoen.Van die vorige veroordelings dateer so ver terug as 1994, en het hy selfs probeer ontsnap by die Tumahole-polisiestasie nadat hy gesoek was vir ‘n roof in Parys.
Na sy en Motale se arrestasies is vasgestel dat hy ook by Kenny se moord betrokke was.
Kenny was besonder geliefd. Nie net onder lidmate van die Metodiste-gemeente nie, maar ook in die gemeenskap van Parys.
Sy vriendelike en hulpvaardige geaardheid was goed bekend. Hy het vir jare by Mica gewerk, en het ook voorheen in die meubelbedryf gewerk.
Hy was sy lewe lank by die kerk betrokke, maar het hom na sy aftrede veral toegespits op die kerk se werksaamhede.
Omdat daar baie bejaarde lidmate in die gemeente is, het hy hom oor hulle ontferm en oral gehelp waar hy kon.
Hy het gelewe vir sy geloof – ‘n grapjas, ‘n omgeemens en iemand wie se ongelooflike kennis van die dorp en sy mense jou altyd opgeval het.
Motala en Mbele se arrestasie is gemaak deur speurders van Parys, lede van Misdaadvoorkoming, en Misdaad Intelligensie na knap speurwerk.
Die ondersoekbeampte vir die moord is ao. Jaco Venter, terwyl sers. Tami Nqai die saak van huisroof ondersoek
* Beide Motale en Mbele moet ook op 3 Julie in die hof wees vir ‘n saak waarin hulle die verdagtes is van ‘n selfoon wat vroeër vanjaar in die sakegebied van Parys geroof is.
Die selfoon is deur die polisie teruggevind.



